Vir die meeste mense is ’n spinnekop ’n grillerige spesie – maar vir Landi Cordier, spinnekopliefhebber van Kroonstad, is spinnekoppe interessant. Sy deel haar unieke uitkyk.
Baie van ons weet van die wolfspinnekop (Lycosidae) wat eers haar eiersak, en dan haar spinnekoppies, op haar agterlyf ronddra – maar het jy geweet dat die langbeenspinnekop (Pholcidae) haar eiersak en spinnekoppies tussen knypers onder haar mond dra?
Die wyfielangbeenspinnekop weef ’n fyn, syagtige web waarin die eiertjies versigtig toegedraai word. Die wyfie kan in haar leeftyd tot drie van hierdie eiersakke maak, wat elk tien tot 60 eiers kan bevat.
Langbeenspinnekoppe hou daarvan om in donker, stil ruimtes te bly waar daar nie steuring is nie. Hulle word gereeld in plekke soos ’n motorhuis of buitekamer aangetref, en hulle is selde alleen.
Vir my is die langbeenspinnekop een van die interessantste spinnekoppe omdat sy oor eienskappe beskik wat ’n mens, gegrond op haar voorkoms, nie noodwendig aan haar sal toeskryf nie.
Al is langbeenspinnekoppe fyn, is hulle aggressief veral teenoor spinnekoppe van ander spesies.
Dit is juis hoekom ’n mens gewoonlik ’n paar langbeenspinnekoppe by mekaar sal vind, en nie enige ander spesie spinnekop nie.
Dit is moeilik om in te dink dat dié spesie – veral die wyfies – so aggressief is, veral wanneer ’n mens die spinnekop met ander soos knopie- of reënspinnekoppe vergelyk. Hoewel dié spinnekoppe veel groter is, kan hulle die langbeen se slagoffer word.
Anders as ander spinagtiges, soos die wawielwebspinnekop, bevat haar sy geen kleef-eienskappe nie en maak hulle staat op die deurmekaar struktuur van hul web om prooi vas te keer. Wanneer haar prooi verstrengel is, sal die langbeenspinnekop die dodelike byt toedien.
Die mite dat haar byt “een van die giftigste ter wêreld” is, maar dat die mens se vel te dik is vir haar om deur te byt, is in 2004 in die 13de aflewering van die reeks MythBusters op die proef gestel. Aanbieder Adam Savage het sy hand in ’n houer vol van hierdie spinnekoppe gedruk, en talle bytplekke was ná die tyd sigbaar.
Spider House met prof. Alice Roberts en die entomoloog Tim Cockerill is ’n insiggewende dokumentêre rolprent om te kyk as ’n mens die langbeenspinnekop se gewoontes wil bestudeer en terselfdertyd jou afstand wil hou.