Die jaarlikse Bokkieweek wat in Kroonstad plaasvind het weer vir groot opwinding gesorg toe spelers van oor die land heen in netbal-, hokkie- en rugbywedstryde teen mekaar meegeding het.
Vanjaar het die geleentheid van 3 tot 7 Julie op die sporttereine van die North High School en Hoërskool Trio plaasgevind.
Altesaam 2 848 spelers van 15 verskillende unies oor die land heen het deelgeneem.
Met Maandagaand (03/07) se openingseremonie kon ’n mens die samehorigheid tussen die spelers en 579 beamptes aanvoel.
Steve Hofmeyr wat as gaskunstenaar by die opening opgetree het, is met ’n oorkonde van Bokkieweek se organiseerders vereer vir sy lewenslange toewyding aan die Afrikanerkultuur.
Die feestelike atmosfeer het Dinsdag, Woensdag en Donderdag voortgeduur met die weergalmende spankrete en Dinsdag (04/07) is ’n Mnr. en Mej. Bokkieweek aangewys.
Vrydag (07/07) ná die laaste wedstryde het die prysuitdeling plaasvind waar die speler van die toernooi en ander uitblinkers vereer is.
Die wedstryde is regstreeks uitgesaai op Facebook en YouTube.
Ds. Peter Stans, hoofuitvoerende beampte van Bokkieweek, sê daar is uitstekende rugby, hokkie en netbal gespeel.
Spelers kan in die onderskeie sportsoorte van o.13 af aan Bokkieweek deelneem.
Om aan proewe deel neem, kan belangstellendes hul naaste unie kontak of deur die Bokkieweek Facebook-blad kontak maak vir inskakeling.