Die 26-jarige Kobus du Preez, ’n Kroonstadter in murg en been, het op Saterdag 11 Maart sy eerste kolhou op die Kroonstad-gholfbaan geslaan.
“Dit is natuurlik enige gholfspeler se droom en veral as jy nie die sport professioneel beoefen nie, is dit ’n bonus en ’n baie lekker gevoel om ’n kolhou te slaan,” sê du Preez.
As 12-jarige het Du Preez saam met sy pa Pieter du Preez, ’n entoesiastiese gholfspeler, die sportsoort begin beoefen. Nadat hy sy eie gholfstel by sy pa gekry het, was die koeël deur die kerk.
Op hoërskool het hy vir sy skool se eerste gholfspan gespeel, die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooies), vir wie hy ook op nasionale-vlak in Johannesburg verteenwoordig het.
Alhoewel hy nie ’n voltydse gholfspeler is nie, speel hy graag wanneer die geleentheid hom voordoen en hy neem aan gholfkompetisies deel wat weekliks by die Kroonstad-gholfklub plaasvind.
“Gholf verg baie oefening. Dit leer jou ook om geduldig te wees en om onder druk te kan funksioneer.”
Hy geniet die sportsoort vir die samesyn met vriende en ander spelers en sê ook dit is lekker om op die verskillende gholfbane te speel, omdat elkeen sy eie unieke uitdagings het.
Hy hoop ook om die sport vir solank as moontlik te beoefen.
Du Preez is ook ’n kranige tennisspeler wat op skool provinsiale klere in die sport verwerf het. Op agt-jarige ouderdom het hy sy hand aan die raket gewaag en nog nooit weer terug gekyk nie. Naas gholf is tennis sy gunsteling sport.