Speler mik nog hoër

’n Jong gholfspeler van Kroonstad maak stadig maar seker opslae.


’n Jong gholfspeler van Kroonstad maak stadig maar seker opslae.

Die 13-jarige Elé Conradie, ’n gr. 7-leerling aan Trio Primêr, is ’n uitstekende gholfspeler wat vanjaar groot hoogtes in dié sportsoort bereik het.

Sy is byvoorbeeld vir die Vrystaat-o.19-span gekies, wat haar die geleentheid gegee het om teen spelers van die Noord-Vrystaat mee te ding. Sy het ook aan die US Kids Gauteng-toernooi en die Vrystaat- junior toernooi deelgeneem.

Om die waarheid te sê, het sy in die drie US Kids-toernooie waaraan sy deelgeneem het, eerste en tweede plekke behaal.

Elé het op sesjarige ouderdom saam met haar ma, Dorette, begin gholf speel en só haar vaardighede geslyp. Vanjaar het sy ’n eerste keer aan kompetisies deelgeneem.

“Ek en Henry Parsons was hierdie jaar tweede in die super-8-gholftoernooi wat in Lichtenburg plaasgevind het. Daar is ek as die beste meisiespeler van die dag aangewys,” sê Elé.

Sy probeer om drie keer per week te oefen, maar as kranige sportvrou hou haar ander sportbedrywighede haar baie besig.

Elé neem aan hokkie, tennis, netbal, krieket en gholf deel. Sy het ’n groot liefde vir hokkie.

Wanneer haar program dit toelaat, neem sy deel aan gholfdae by die Kroonstad-buiteklub, waarvan sy ’n lid is.

Elé ontvang gholf-afrigting by Jaco Froneman van Kroonstad, asook by Quintin Williams van Bloemfontein .

“Gholf is ’n wonderlike sportsoort om mee kop skoon te maak, en ek geniet dit om my eie vermoëns teen dié van medespelers te beproef.”

Haar rolmodel is die Amerikaner Scottie Scheffler, een van die wêreld se topspelers.

“Scheffler is iemand om na op te kyk, en ek sal nie omgee om ’n gholfloopbaan soos syne te hê nie.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.