Bethlehemiete het in die top-plekke by die SAWTDA
(Suid-Afrikaanse Werkershondvereniging) se 2016 nasionale kampioenskap
geëindig.
Die Vrystaatspan het altesaam 27 medaljes verwerf,
waarvan tien goud, sewe silwer en tien brons was.
Spanne wat nasionale kleure verwerf het, is Marius van
den Heever en Abu, Ria Kriel en Carla, Francois Potgieter en Vonya en Eduard
Bruwer en Luther.
Die Vrystaatse A-span het ook die Johan
Venter-wisseltrofee verower. In dié span is Marius van den Heever, Ryna
Pietersen en Ilze Hayes, wat ook goue medaljes ontvang het.
Gauteng se A-span was tweede en die Vrystaatse B-span het
met die bronsmedalje weggestap.
Opgeleide honde van verskillende rasse se vaardigheid en
standaard van opleiding is deeglik getoets.
Nommers waarin die honde by die kampioenskap meegeding
het, was:
aanvalswerk, waar honde geleer word om persoonlike
besittings te bewaak, te verdedig en verdagtes agterna te sit en te vang;
rigtingbeheer, waar honde opdrag kry om met handseine
van die hanteerder in verskillende rigtings oor ’n afstand van 50 m in ’n
reguit lyn te hardloop, op ’n oop veld, en 25 m na links of regs te hardloop;
apparate: honde spring deur vuur, kruip onderdeur drade,
klim teen voorwerpe op, hardloop oor platforms en word met tydsbepaling getoets
vir hul vaardigheid, brawade en spoed;
reukwerk: word opgedeel in drie kategorieë: springstof,
narkotiese middels en ander reuke soos koffie, witmossels of tabak.
In die afdeling vir reukwerk met houers word die voorwerp
binne in ’n oop houer tussen vier ander versteek en die hond moet slegs deur
reukvernuf die versteekte voorwerp tussen die vyf houers opspoor. Drie rye van
vyf houers elk word vooraf uitgepak en die hond wat die vinnigste die opdrag
korrek uitvoer, is die wenner.
In die afdeling vir reukwerk in vierkantsdeursoeking word
daar ’n oppervlak van 25 m by 25 m met vars strooi bedek en word die
reuk-voorwerp onder die strooi tussen drie ander leë houers versteek. Hier moet
die hond weer slegs op reukvermoë staatmaak om die voorwerp binne drie minute
op te spoor en aan te dui dat dit gekry is.
Ná die nasionale kampioenskap is die Grand Challenge
gehou.
Hier moet deelnemers en die honde wat die eerste vier
plekke behaal het, weer teen mekaar meeding. Die Vrystaatspan het hier 20
medaljes verwerf, waarvan sewe goud, ses silwer en sewe brons was.
In die Vrystaatspan is verskeie Bethlehemiete. Die
kaptein is Morne Hayes en die ander lede is Ilze Hayes, Francois Potgieter,
Marius van den Heever, Mariska du Preez, Ria Kriel, Eduard Bruwer, Ryna
Pieterse, Daryll Allwright (jr.), Louis Jacobs en Werner Snyman van
Bloemfontein.
Dit het onlangs by die Cluny Farm, Kayalami, plaasgevind.
Die span bedank hul borge: Ferreira Broers Yamaha,
Cigler’s Slaghuis, Bethlehem Paneelkloppers, C&F Konstruksie, Paw Pet
Hyper, Francois Marais, André en Nanki du Plessis en Motorsentrum Bakwerke.
Van die lede is ook lede van die Royal Dog Training-klub
en mense wat betrokke wil raak, kan vir Louis Cierenberg by 083-406-5892 of Ria
Kriel by 082-964-0680 bel.