Die Hoërskool Witteberg in Bethlehem se o.14A-rugbyspan het ’n ongelooflike seisoen agter die rug en spog met twee ligabekers.
Die span het in die eindstryd van die Sentrale Skolerugbyreeks teen die Hoërskool Voortrekker van Bethlehem te staan gekom en met 17 – 5 geseëvier.
Dié twee skole was ook in die eindstryd van die Griffon-skoleliga slaags. Witteberg het Welkom-Gimnasium in die halfeindstryd met 17 – 14 verslaan voordat die span Voortrekker met 20 – 17 geklop het om as die wenner van die o.14A-Griffonliga gekroon te word.
“Die rugbyseisoen het rof begin, maar met harde werk en deursettingsvermoë het ons die vrugte gepluk,” sê Cobus Labuschagne, kaptein van die seëvierende span.
Gustav Dreyer, Witteberg se bemarkingshoof, sê Dolf van Rensburg en Leonard Jacobs, die span se afrigters, is ongelooflik trots op die spelers se harde werk in dit wat hulle vermag het.
“Die o.14A-rugbyspan het in die jaarlikse interskoletoernooi teen Voortrekker met 0 – 24 verloor,” noem hy om te verduidelik hoe sterk die span teruggeveg het.