Die AfriForum-tak in Bethlehem het vanjaar groot planne om die dorp skoon en netjies te hou en wil poog om groter projekte aan te pak wat tot voordeel van die gemeenskap sal wees.
Deel van die beplanning is om vir gemeenskapslede teen ’n billike prys die gras op sypaadjies en elders te sny, asook om bosse wat wild groei uit te kap om sodoende die omgewing veiliger te maak.
Dié geld sal vir groter projekte aangewend word.
“In Januarie 2022 het die Bethlehem-takbestuur besluit om die geld tot ons beskikking te gebruik om ’n waentjie te koop, asook masjinerie wat gebruik kan word vir die opvul van slaggate.
“Ons het drie werkers wat op ’n permanente grondslag as kontrakteurs vir AfriForum werk, opgelei en aangestel. Sedertdien is die tak daagliks besig met die herstel van slaggate,” sê Christa Ikking, AfriForum-streekskoördineerder vir die Hoogland-streek.
AfriForum-takke ontvang jaarliks slegs ’n gedeelte van die ledegeld, wat vir projekte aangewend word. Die res van die geld word vir regsaksies en ander uitgawes gebruik.
Daarom is die organisasie steeds afhanklik van skenkings en bydrae deur die publiek, sowel as ondernemings, om die bedrywighede volhoubaar te maak.
“Ons is baie dankbaar vir ondernemings in Bethlehem wat reeds hande met ons vat en sement, gruis, gas en brandstof vir projekte skenk,” sê Marc Timmins, voorsitter van die Bethlehem-tak.
In November 2022 het die Bethlehem-tak drie rantsnyers en een grassnyer aangekoop waarmee die gras in die War Veteran-, Môrelig-, Utopia-, Bakenpark- en die ou Bohlokong-begraafplaas elke derde week gesny word.
Timmins sê wanneer die span nie besig is met die opvul van slaggate nie, sny hulle die gras by die begraafplase en die museum. Hierdie diens word deur AfriForum gefinansier.
Ikking sê hoewel al die werksaamhede en projekte ’n spanpoging is, is Timmins die een wat die werksaamhede soos ’n goed geoliede masjien laat loop. Hy is ook verantwoordelik vir die kwotasies en die bestuur van die projekte.