Vir die eerste wedstryd van die nuwe krieketseisoen in die Thabo Mofutsanyana-liga (TBM) het die meisieskrieketspan van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem teen Ladybrand se tweede span te staan gekom.
Witteberg het dié wedstryd op 2 Oktober in Ladybrand met ’n oorweldigende oorwinning van 214 lopies beklink.
Witteberg het die loot gewen en gekies om eerste te kolf.
Die openingsvennootskap tussen Zané Wessels en Mia Daacke was indrukwekkend, met dié twee wat 123 lopies van 58 balle aangeteken het.
Zané het eindelik haar paaltjie vir 51 lopies van 34 balle verloor. Mia het die veld verlaat op 55 lopies van 28 balle om die res van die span kolfkans te gee.
Lize van den Berg en Martinique Grobler het albei uitstekend vertoon en onderskeidelik 35 en 37 lopies aangeteken sonder om hul paaltjie te verloor.
Witteberg het die beurt afgesluit met 244/1 ná 20 beurte.
Ladybrand kon slegs 30 lopies oor 20 beurte aanteken.
Verskeie Witteberg-boulers het elk ’n paaltjie geneem, maar spesiale vermelding moet gemaak word van Arné Maritz, as paaltjiewagter. Sy was betrokke by die kanteling van sewe van die nege paaltjies deur vyf vangskote te neem en te verseker dat drie van Ladybrand se spelers uitgehardloop word.
Witteberg begin die nuwe krieketseisoen op ’n hoë noot.
Die span is al die afgelope 11 jaar onoorwonne.