Die Hoërskool Witteberg in Bethlehem se eerste meisieskrieketspan het wéér in die Thabo Mofutsanyana-liga (TBM) koning gekraai.
Witteberg het op 26 Oktober in die eindstryd teen die Hoërskool Voortrekker se eerstespan te staan gekom.
Witteberg het die loot gewen en gekies om eerste te kolf. Leozé Lottering en Amy Kotzé se kolfwerk aan die begin van die wedstryd was ’n skouspelagtige vertoning.
Die twee openingskolwers het ’n rekord-vennootskap van 162 lopies gebou.
Nadat Leozé 92 lopies van 52 balle aangeteken het, het sy haar paaltjie verloor en was dit Evané du Toit se taak om Amy verder op die kolfblad by te staan.
Amy het eindelik 64 lopies van 53 balle in die toegelate 20 beurte gemoker, en Evané 25 van 18 balle.
Die lopies op die telbord het neergekom op 207 vir die verlies van een paaltjie.
Toe die Wittebergers die veld met die bal in die hand betree, het hulle sommer gou die oorhand gehad.
Leozé het ook hier geskitter deur 3 paaltjies in 4 beurte te neem en slegs 6 lopies af te staan. Evané het 2 paaltjies in 4 beurte geneem, vir slegs 13 lopies.
Ander spelers wat paaltjies geneem het, is Zané Wessels, Elry Flores en Marichelle Spies.
Met twee balle van die toegelate 20 beurte oor, het Amy seker gemaak dat die laaste pen val met ’n ongelooflike stonk.
Dié span se teenstanders kon slegs 55 lopies aanteken, wat beteken dat Witteberg die wedstryd met 152 lopies gewen het.
Die span van Witteberg is al die afgelope tien jaar onoorwonne. Dit is ook die span se tiende ligasege agtereenvolgens in 11 seisoene.