Mia Daacke van die Hoërskool Witteberg se eerste meisies­krieketspan op die veld teen die Hoërskool Paul Erasmus in die eindstryd van die Thabo Mofutsanyana-liga. Sy het vier paaltjies laat kantel om haar span ’n goeie grondslag vir sy sege te gee. Witteberg is weer kampioen.Foto: Verskaf


Die eerste meisieskrieketspan van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem is ’n 11de jaar agtereenvolgens as die kampioen van die Thabo Mofutsanyana-liga (TBM) gekroon.

In vanjaar se TBM-krieketliga-eindstryd het Witteberg teen die Hoërskool Paul Erasmus van Senekal te staan gekom.

Witteberg het die loot gewen en besluit om eerste te boul.

Mia Daacke het voor gevat met die bal en 4 paaltjies laat kantel, terwyl 11 lopies in 4 beurte afgestaan is. Marichelle Spies het haar bygestaan met 2 paaltjies in 4 beurte, met 9 lopies wat afgestaan is.

Die span van Paul Erasmus kon slegs 75/9 in 20 beurte aanteken.

Leozé Lottering van Witteberg, met 34 lopies van 20 balle, en Amy Kotze, met 30 lopies van 20 balle, het slegs 6.3 beurte nodig gehad om die wentotaal van 76 lopies te moker.

Witteberg het die wedstryd met tien paaltjies gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article