Sonder geduld is pad swaar en gevaarlik

Ek sit in my warmgebakte motor by ’n verkeersligkruising in een van ons Vrystaatse dorpe. Die lugversorger is op die hoogste verstelling.


Ek sit in my warmgebakte motor by ’n verkeersligkruising in een van ons Vrystaatse dorpe. Die lugversorger is op die hoogste verstelling.

Dit is tydens ’n beurtkrag­sessie, en ’n ligte ongeduldigheid stoot in my op. Die pad­gebruikers verontagsaam die reëls links en regs en dit is absoluut onaanvaar­baar, dink ek in my enigheid.

Tog is dit duidelik dat dit nie net ek is wat effe ongeduldig raak nie.

Mense ry sommer voor mekaar in sonder om aan die gevolge te dink. Hulle is immers haastig en het nie tyd vir dié strooi nie.

Ek hou my asem op elke keer dat ek moet wegtrek, in die hoop dat iemand anders nie dalk in my motor sal inploeg nie.

Ek waag dit met moed om die eerste kruising oor te steek, met nog drie kruisings wat vir my voorlê. Deur genade is ek veilig oor tot by die volgende kruising.

Twee taxi’s wat van regs kom by die tweede kruising ry gelyktydig, terwyl die agterste taxi veronder­stel was om te stop. Die motoris wat wou regs draai, moet sy voertuig in die middel van die kruising tot stilstand bring om ’n ooglopende ongeluk te vermy. Dié motor wat stop, verhoed dat die motor aan die oorkant wat wil reguit ry, sy weg kan vind.

Dit is handgebare en toeters wat opklink en ek staar na die chaos wat voor my afspeel.

Ek waag weer ’n kans en ag myself gelukkig om dié kruising ook veilig oor te steek.

Dan wonder ek hoe op aarde padgebruikers se gemoedere in stede soos Johannesburg of Kaapstad moet wees, neem ’n mens beurtkrag in ag. Ek is doodseker dit laat die verkeersuitdagings hier op die platteland na ’n vulletjie lyk.

Ek sou dit nie kon deurstaan nie.

Ek besef die mensdom sukkel met geduld en dit is veral ’n swakheid van motoriste.

Ons is seker veronderstel om te midde van uitdagings soos beurtkrag dieper asem te haal.

Dit is immers elke motoris se lot, en ons voel almal moedeloos en opgeklits. Ons moet aanpas, en dit gaan tyd neem.

Die nuwe wyse kan dalk ’n rukkie neem om aan gewoond te raak, maar hoe anders gaan ons die vele uitdagings wat aan die orde van die dag is, trotseer?

You need to be Logged In to leave a comment.