Met die warm Desembervakansie wat aangebreek het, vra die somersdae vir iets verfrissends om jou mee af te koel.
Onthou om daardie yskoue en smaaklike rooibos-ystee in die yskas te hou. Dit is die beste dorslesser wat jy kan kry. Die bykomende voordele van die ystee is dat dit natuurlik suikervry, goedkoop en boonop baie gesond is.
Ons tuinvriende wat van die winter af in hul tuine gewoel en gewerskaf het, pluk nou die vrugte daarvan om minder afhanklik van supermarkte te wees.
In ’n gevestigde kruie-en groentetuin is daar altyd iets waarmee jy disse kan opkikker en ekstra smaak gee.
Jou groente en vrugte is ekstra vars en word gekweek sonder skadelike chemikalieë (as jy ag geslaan het op my organiese kunsmis wenke), wat hulle ryker aan voedingstowwe maak. Dan smaak ’n varsgeplukte tamatie uit jou eie tuin darem ekstra lekker.
’n Vinnige en lekker koue versnapering of nagereg kan met enige steenvrugte wat in jou tuin groei, gou aanmekaar geslaan word.
Gebruik vyf tot ses perskes en of pruime. Jy kan ook so ses tot sewe appelkose of ’n kombinasie daarvan gebruik. Was die vrugte skoon (nie nodig om te skil nie), sny die vlees in dikkerige skywe en verwyder die pitte. Plaas die skywe in ’n glasbak, in lae.
Gooi op elke laag ’n bietjie bruinsuiker en kaneel na smaak. As daar ’n mango ook in jou yskas lê, kan geskilde mangoskywe ook bygevoeg word. Bedek die vrugte-lae nou met heelwat volroom Griekse joghurt. Plaas dit in die yskas vir twee tot drie ure om lekker koel te word en om die bruinsuiker kans te gee om effe te smelt en saam met die vrugtegeure te meng.
Versier gerus met kruisement wat in Desembermaand so welig in die tuin groei en geniet die heerlik gereg.
Met die aanlê van ’n groentetuin is dit nie net ’n manier om ’n gesonder leefstyl te ontwikkel nie, maar bring ons nader aan die natuur en kan ons streef na ’n meer volhoubare lewe.
Kersgroete aan ons lesers, gevul met ’n groente– en kruietuin vol vreugdes.