Soldaat se dood skok

Die skielike dood van ’n soldaat in die SANW wat in Mosambiek ontplooi was, het skokgolwe deur die gemeenskap van Bethlehem gestuur.

Stafsersant Johan van Rooyen

Credit: SYSTEM

Die skielike dood van ’n soldaat in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) wat in Mosambiek ontplooi was, het skokgolwe deur die gemeenskap van Bethlehem gestuur.

Die 51-jarige stafsersant Johan Andries van Rooyen is Saterdag (09/07) in ’n hospitaal in Pemba, Mosambiek, oorlede.

Van Rooyen het op die Mihluri-basis van erge hoofpyn en bors-ongemak gekla voordat hy na die hospitaal in Pemba oorgeplaas is.

Die oorsaak van sy dood moet nog bepaal word, maar daar word vermoed dat hy aan ’n hartaanval gesterf het.

Van Rooyen was ’n lid van 2 Veldgenieregiment in Bethlehem en was deel van Operasie Vikela, Suid-Afrika se bydrae tot die Suider-Afrikaanse Ontwikkelings­gemeenskapsending in Mosambiek (Samim).

Hy was ’n gebore Bloemfonteiner en het hom in 1993 by 2 Veldgenie­regiment aangesluit.

Hy het hom sedert sy indiensneming as stafsersant bekwaam en is hoofsaaklik in die buiteland ontplooi, waar hy by verskeie operasies betrokke was. Hy het onder meer in lande soos Burundi, Suid-Soedan, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Mosambiek diens gedoen.

“Hy is gereeld ontplooi en het nie juis tyd gehad om sosiaal te verkeer nie. Hy het maar so veel as moontlik probeer ontspan wanneer hy tuis was,” sê kapt. Derick Wells van 2 Veldgenieregiment.

Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Thandi Modise, adjunkminister Thabang Makwetla, die sekretaris van Verdediging, ambassadeur Sont Kudjoe, en die hoof van die SANW, genl. Rudzan Maphawnya, het hul innige meegevoel teenoor Van Rooyen se familie, kollegas en vriende betuig.

Van Rooyen se familie is tans in Pretoria waar hulle wag op afgevaardigdes wat na Mosambiek is om sy oorskot na Suid-Afrika terug te bring.

Die SANW en sy gesin sal daarna die begrafnisreëlings bevestig.

Van Rooyen word deur sy vrou, Hannetjie, en dogters, Elverna (16) en Jessica (12), oorleef.

You need to be Logged In to leave a comment.