Om heeltyds ma en vrou te wees, ’n beroep te beoefen en al die uitdagings wat die lewe bied te trotseer is wat daartoe lei dat jy saans doodmoeg net op die rusbank neersak.
Vroue is die meeste van die tyd op ’n drafstap om die kombinasie van hul werk en huis saam te laat vloei.
Dit is ’n uitdaging om al die rolle wat jy as vrou in die samelewing speel mooi te balanseer.
Ons plaas soms soveel druk op onsself, hoewel ons eintlik al die balle in die lug kan hou.
Ons vergeet dat die werk wat ons doen, die produk gee van die resultate wat ons behaal.
Tog is dit ’n wanpersepsie om te dink dat geluk in die mense en werk om jou is.
Ons moet ons eie vreugde diep in ons menswees gaan soek. Ons is so uniek geskape dat ons bo die warboel en gedruis van die wêreld eintlik dié is wat ’n rustige hawe vir ander skep.
Jy weet byvoorbeeld wanneer jou kind iets nodig het, en is soms daar nog voordat hulle vra.
Besef ook dat jy as ma nie al die probleme van jou kinders kan dra nie. Probleme maak kinders sterk vir hul lewensreis en laat hulle besef dat geeneen van ons se pad in sierstene uitgelê is nie.
Eendag noem ek aan my dogter dat ek soms spyt is oor dinge wat ek graag wou doen, maar nooit gedoen het nie. Sou my lewe nie dan baie anders gewees het nie?
Sy antwoord toe spontaan: “Moenie ma se spoke uit die verlede oproep nie. Ek is ook geneig om dit te doen.
“Maar ek het deesdae geen skuldgevoel as ek soms die kinders by ’n vriendin aflaai om net alleen te wees nie.
“Al is dit net om ’n koffie alleen te gaan drink.”
Dit is nodig om tyd vir jouself te gun. Ontspan op enige plek wat vir jou rustigheid bring. Om stil te word, bring die wonderklank van die lied wat die natuur vir jou sing.
Moet nooit vergeet: Dit wat jy het, kan enigeen kry, maar wie jy is, kan net jy wees.
Uniek geskape, met ’n sagtheid wat kan deurspoel na ander om ’n verskil te maak in lewens wat stukkend is.
Jy is kosbaar in God se oë. Moet nooit minder van jouself dink nie, want die Koning van alle Konings sal jou die krag en genade gee om deur alles te loop terwyl Hy jou nooit alleen laat nie.