Só bly die wêreld bollemakiesie slaan

Die laatmiddagson skyn in ’n warm straal deur die ronde venster in die kombuis, en in stilte sit ek aandagtig en lees oor die vreemde weerpatrone wat veral in Europa, die Midde-Ooste en Asië voorkom.


Die laatmiddagson skyn in ’n warm straal deur die ronde venster in die kombuis, en in stilte sit ek aandagtig en lees oor die vreemde weerpatrone wat veral in Europa, die Midde-Ooste en Asië voorkom.

Temperature wissel van 40 °C tot 45 °C oor die meeste dele.

Ek stuur ’n stemboodskap aan my skoonsuster in Londen en vra of hulle oorleef.

Spoedig kom die antwoord terug.

“Nee aarde sus, jy verstaan nie, dit voel of ons gaan smelt. Ons is mos nie meer die tipe hitte gewoond nie.”

Hulle woon nou al 18 jaar in Brittanje.

“Het jy darem ’n waaier? Julle het mos net verwarmers in die huise? Verkoop hulle ooit waaiers in Brittanje?”

“Nee ons besit nie ’n waaier nie, maar het darem ’n opblaas-swembad te koop gekry en vol water getap. Ons klim maar kort-kort in en uit. Skole en ondernemings is gesluit weens die hittegolf. Ons bak uit!”

Hier in die Vrystaat het ons sover ’n heerlik gematigde winter, ons het nog nie sneeu of uiterste koue beleef nie. Dit is gewoonlik ysig in Julie wanneer skole ná die wintervakansie heropen, maar die eerste week van die derde kwartaal was nog net mooiweer.

So in die stilte hardloop daar ’n string emosies deur my, omdat nie net die lewe nie, maar selfs ook die aarde, op sy kop gekeer is. Sedert 2020 maak die lewe bollemakiesie en verras ons met vreemde verskynsels.

Mag die ongekende hitte en chaos wat daarmee gepaard gaan vinnig tot ’n koel kalmte bedaar.

You need to be Logged In to leave a comment.