Hy hoop om eendag op die familieplaas in die Oos-Vrystaat te boer.
Só sê Hendro Botha (18) van die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem.
Hy het in die eindeksamen onderskeidings in Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, wiskunde, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, rekenaartoepassingstegnologie en ingenieursgrafika en -ontwerp gekry.
Hendro gaan vanjaar bedryfsingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit van Potchefstroom studeer. Hy hoop om daarna vir twee jaar as ingenieur te werk, maar sy plan is om eendag op hul plaas, Ananiël, buite Bethlehem te boer.
Sy ouers, Hendrik en Janene, boer op dié plaas. Dit is ’n saai- en veeboerdery.
“Ek is ’n boer in my hart. Dit is my droom om eendag te boer.”
Op dié plaas het hy saam met sy jonger broer en suster naweke en vakansies deurgebring.
“Ek gaan in die land bly en boer. Ek sal dalk oorsee werk vir ondervinding, maar ek gaan terugkom Vrystaat toe,” deel hy sy planne.
Hendro het vir die skool se eerste span tennis en hokkie gespeel, en gaan beslis op universiteit met dié sportsoorte volhou.
Hy skryf sy sukses in die eindeksamen toe aan hard leer, harde werk deur die jaar en die navolging van en gehoorsaamheid aan die Here.
“Ek wil ’n boer wees wat nie net geld en uitbreiding najaag nie, maar eerder na die omgewing kyk om volhoubaar en ekonomies te boer.
“Ek wil beslis meer omgewingsvriendelik en volhoubaar boer. Ek gaan kyk na metodes soos minimum bewerking, en sal nie die veld oorbewei nie.”