’n Vrystaatse matriek met agt onderskeidings wil graag eendag haar eie wyne maak.
Elfrieda Prinsloo (18) van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem gaan vanjaar wingerd- en wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch studeer.
“Ek wil baie graag wynmaak,” sê dié Oos-Vrystaatse slimkop.
Sy het onderskeidings in Afrikaans (huistaal), Duits (tweede addisionele taal), Engels (eerste addisionele taal), fisiese wetenskappe, ingenieursgrafika en -ontwerp, lewensoriëntering, lewenswetenskappe en wiskunde verwerf.
“Ek sou aanvanklik veeartsenykunde studeer het, maar aan die begin van verlede jaar het ek besef dit is nie die regte rigting nie,” sê Elfrieda.
“Ons is in April Kaap toe, en ek het verlief geraak op die wynland. Toe besluit ek om na Stellenbosch te gaan.”
Sy het so baie van die wynplase en wynmaak gehou dat sy daarop besluit het as ’n beroep.
“Ek verkies rooiwyn, maar soms is witwyn glad nie sleg nie,” gesels sy.
Onder haar stokperdjies tel viool, kitaar en musiek in die algemeen. Sy is ook baie lief vir lees en kultuur. Sy hou van tale en het debat op skool gedoen.
“Ek is ook baie lief vir plante en het heelwat huisplante en vetplante.”
Haar ouers is dr. Goddy Prinsloo, entomoloog by die Kleingraansentrum, en Petro, ’n maatskaplike werker by die departement van korrektiewe dienste. Elfrieda is die jongste van drie dogters.
Haar resep vir sukses was nie om ure voor die boeke deur te bring nie. Sy het eerder haarself geniet en verseker dat sy nie uitbrand nie.
Elfrieda sê sy het hard gewerk om te verstaan wat sy leer en dit goed weer te gee.