“Ek kon nog altyd die mooi raaksien, en ek dink dit is waar alles begin. Jy moet net leer om dit wat jy ervaar in die een of ander medium weer te gee,” sê Doreen Richter (61) ’n skilder van Kroonstad.
Dié boorling van Brits is die afgelope 20 jaar in Kroonstad woonagtig, en dit is juis hier waar sy haar hand die eerste keer aan die kwas gewaag het.
“Ek was in die bevoorregte posisie om kunslesse by Marietjie van Tonder, Jenny Krog en Carien en Zerk de Villiers te ontvang. Dit was ’n groot voorreg om my skilderkuns deur sulke befaamde kunstenaars te laat ontwikkel.”
Doreen sê dat sy nog altyd baie kunstig was en dit geniet om te skep. Sy was van kleintyd af gaande oor enige kunsvlyt of skeppende projekte omdat sy dan kreatief kon wees.
Buiten skilder het sy ook al haar hand aan beeldhoukuns gewaag, en kleiwerk is vir haar ’n nuwe en opwindende uitdaging.
Sy skilder graag op doek of papier en het al in verskeie mediums gewerk. Deesdae skilder sy graag met akriel omdat dit vinnig droog word.
Dit is vir haar heerlik om portrette van mense te skilder, juis omdat sy die emosie in die oë só kan vasvang.
Blomstudies is haar ander gunsteling, veral wanneer sy rose op doek kan verewig.
“My gunsteling-skildery van dié wat ek geskilder het, is van my oorlede seun Benjamin. Dit sal beslis die ding wees wat ek dadelik sal gryp wanneer ’n brand sou uitbreek – dit is immers my kosbaarste besitting.”
Sy sal Zerk ewig dankbaar bly dat hy haar aangemoedig het om haar seun te skilder.
Doreen bedryf steeds haar eie ondernemings in die dorp, en daarom is tyd vir skilder baie beperk. Sy sê dat sy ’n afspraak met haarself moet maak om te skilder.
Wanneer sy skilder, verkies sy om in stilte met haar eie gedagtes te werk.
“Dit fassineer my wanneer ek sien wat kunstenaars kan vermag met iets so basies soos, byvoorbeeld, ’n potlood, wat ons almal al in gr. 1 gebruik het.
“Dit inspireer my ook geweldig wanneer kunstenaars eintlik hulself die hele tyd tot die uiterste toets om meer van hulself te ontgin – dit wat daar diep binne-in ons deur die groot Skepper gedeponeer is.”
Doreen se kunswerke is al as deel van verskeie groepuitstallings ten toon gestel. Vir die oomblik geniet sy dit om haarself as kunstenaar uit te leef.