’n Jong skut van Bethlehem het uitstekend gevaar op die Boland-handwapen-vlak 3- nasionale kampioenskapsbyeenkoms wat in Kraaifontein plaasgevind het.
Die 15-jarige Leibrandt Swart, in gr. 9 aan die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem, het aan dié nasionale kampioenskap deelgeneem en goed gevaar.
Die jong skut het sedert verlede jaar Januarie amptelik aan die International Practical Shooting Confederation (IPSC) se praktiese assessering begin deelneem waar sy skietvernuf met ’n pistool getoets word.
Leibrandt was algeheel tweede in die junior-afdeling en 13de uit die 115 produksie-skuts in die kampioenskap, wat oor drie dae beslis is.
Op negejarige ouderdom het hy aan kompetisies begin deelgeneem waarin hy hoofsaaklik met jaggewere geskiet het.
Sy voorliefde vir handwapens het egter daartoe gelei dat hy in die nuwe afdeling begin deelneem het.
In hierdie sportsoort word deelnemers se spoed en vaardighede op verskillende skietbane, elk met sy eie uitdagings, getoets.
Johnny Loupellis van die Frontier-skietklub in Stilfontein rig Leibrandt af.
Dit is vir Leibrandt belangrik om al sy fokus op die sportsoort te plaas omdat hy op nasionale vlak in kompetisies deelneem.
Hy slyp daagliks aan sy tegniek en vaardighede by die Rolo-skietbaan.
Leibrandt hou ook van visvang en motorfiets ry wanneer hy vrye tyd het.
“My oupa, Kobus Maree, het my liefde vir skiet en wapens gekweek. Hy was ook die een wat my van wapenbeheer en wapenveiligheid geleer het,” sê Leibrandt.
“Ek geniet regtig dié sportsoort met al die opwindende uitdagings en om elke keer myself te bewys en te verbeter.”
Leibrandt berei hom nou voor vir die volgende kompetisie waarin hy wil meeding, op 11 en 12 Mei in Gauteng.
Daar kan hy moontlik vir die nasionale skietspan gekies word wat volgende jaar aan die wêreldskietkampioenskapsbyeenkoms in Stilfontein sal deelneem.