’n Bethlehemse skut is as kampioen gekroon op die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging se MDS-streekskietkompetisie in Bothaville.
Die 14-jarige Leibrandt Swart, ’n gr. 8-leerling aan die Hoërskool Voortrekker, het op 25 Februarie in dié multidissiplinêre kompetisie uitgeblink. Hy was eerste onder die junior skuts, asook in die enkelwerking-afdeling (“single action shooting”), en algeheel eerste wanneer vier afdelings in ag geneem word.
Leibrandt is ’n lid van die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging se Riemland-tak en die Frontier International Practical Shooting Confederation (IPSC) in Noordwes.
Op die ouderdom van ses jaar, toe hy sy eerste bok plattrek, was die koeël deur die kerk. As negejarige het hy aan dié sportsoort begin deelneem, en hy het reeds verskeie kompetisies van die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging gewen.
As lid van die IPSC skiet hy hoofsaaklik met handwapens.
Hy berei hom druk voor om ingesluit te word in die Protea-span vir 2024, wat aan die wêreldskietkompetisie van 2025 sal deelneem.
Leibrandt is ook ’n kranige hokkiespeler en fietsryer.