Skuld wurg: Drastiese stappe ná wanbetaling aan Eskom

Die onderbreking van elektrisiteitstoevoer na die Moqhaka-, Ngwathe- en Nketoana-munisipaliteit weens wanbetaling aan Eskom kan inwoners en sakeondernemings moontlik teen April in die duister laat.


Die onderbreking van elektrisiteitstoevoer na die Moqhaka-, Ngwathe- en Nketoana-munisipaliteit weens wanbetaling aan Eskom kan inwoners en sakeondernemings moontlik teen April in die duister laat.

Eskom

Die onderbreking van elektrisiteitstoevoer na die Moqhaka-, Ngwathe- en Nketoana-munisipaliteit weens wanbetaling aan Eskom kan inwoners en sakeondernemings moontlik teen April in die duister laat.

Eskom sê ondanks vele onderhandelings om die munisipaliteite tegemoet te kom om hul skuld te vereffen, het die situasie ’n punt bereik waar daar nie meer onderhandel kan word nie.

Elektrisiteitstoevoer kan van Donderdag 17 April af verminder, onderbreek of beëindig word. Dié drastiese stappe word gedoen omdat die munisipaliteite hul ooreenkoms vir verskaffing met Eskom oortree het, asook weens die oortreding van lisensiebepalings.

Die Moqhaka-munisipaliteit skuld Eskom R1 542 873 536, wat nie Januarie en Februarie se kragrekeninge insluit nie. Kroonstad, Steynsrus en Viljoenskroon word deur dié munisipaliteit bedien. Ngwathe se skuld aan Eskom was teen einde Januarie R2 326 524 611. Dié munisipaliteit bedien Parys, Heilbron, Phiritona, Edenville, Vredefort en Koppies. Die Nketoana-munisipaliteit, wat dienste lewer aan Lindley, Petrus Steyn en Reitz, het uitstaande skuld aan Eskom van R837 800 313.

Daphne Mokwena, nasionale woordvoerder vir Eskom, het op Maandag 24 Februarie aan VrystaatKroon bevestig dat Eskom streng gaan optree teenoor die munisipaliteite wat nie by hul afbetalingsooreenkomste hou nie.

“Eskom gebruik verskeie maatreëls om agterstallige skuld van munisipaliteite in te vorder. Eskom werk egter ook saam met regeringsfere om ’n volhoubare oplossing vir die munisipale skuld-uitdaging te vind, wat strukturele hervormings vereis,” sê Mokwena.

As deel van Eskom se proaktiewe maatreëls en die aktiewe vennoot­skapveldtog kan Eskom ’n verspreidings­agentskapooreenkoms met ’n munisipaliteit aangaan. So ’n ­kontrak bied dienste daarop gemik om die volhoubaarheid van elektrisiteits­voorsiening in die munisi­paliteit te herstel. Dienste sluit in vaardigheids­ontwikkeling en opleiding; die vervanging of aanbring van meters; en Eskom wat inkomste namens die munisipaliteit invorder.

In sekere gevalle word Eskom egter gedwing om strenger stappe te doen.

Dika Kheswa, woordvoerder vir Moqhaka, gee die versekering dat elektrisiteitstoevoer 14 werksdae lank nie onderbreek sal word nie. ’n Dringende beroep word op inwoners gedoen om hul rekening teen 7 Maart te betaal om onderbreking te voorkom. Reëlings rondom agterstallige rekeninge kan getref word.

Moqhaka beplan openbare vergaderings om sy standpunt in verband met agterstallige Eskom-rekeninge aan die publiek voor te lê.

Eskom het op 12 Februarie ’n kennisgewing in VrystaatKroon geplaas om belanghebbendes van die situasie in te lig. Openbare voorleg­gings, kommentaar, voorstelle of versoeke kan teen 13 Maart aan Eskom gerig word. Uitsluit­sel hieroor sal dan op 2 of 3 April gegee word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.