Die Bethlehem-lugskou, wat jare lank ’n hoogtepunt op die sosiale kalender was en vamnjaar ’n eerste keer in vier jaar weer aangebied is, het in ’n nagmerrie ontaard toe ’n veldbrand voertuie op die parkeerterrein vernietig het.
Die brand, wat na bewering ontstaan het toe minderjariges sonder toesig wou vleisbraai, het die hele lugskou tot stilstand geruk. Die organiseerders is egter nog besig met ’n ondersoek om die oorsaak en gebeure te bepaal.
Die lugskou is goed ondersteun, met honderde mense wat na die skouspel gaan kyk het. Opwinding oor die skou wat ’n jaarlikse instelling was en weer aangebied is, het groot nuuskierigheid ontlok.
Dit was ook die eerste keer dat die lugskou in Afrikaans, Engels en Sotho uitgesaai is, en dit opsigself het ’n groter skare getrek.
Die dag het goed verloop, en die Dihlabeng-munisipaliteit beskou die lugskou as ’n sukses ongeag die gebeure wat dit noodgedwonge stopgesit het.
Daar word geredekawel oor wie die skuld moet dra en of daar voldoende owerhede met genoegsame kennis op die lugskou aan diens was. Wie gaan verantwoordelikheid neem vir die verlies? Was dit op eie risiko?
Die ondersoek sal die vele vrae wat steeds gevra word, moontlik kan beantwoord. Indien die minderjariges wel verantwoordelik was vir die brand, waar was hul ouers en wie sal dan verantwoordelikheid neem?
Slegs tyd, en ’n deeglike ondersoek met betroubare bevindings wat duidelik kommunikeer word, sal leer.