Eenmaal was daar die stil Oujaarsaande; die blinknuwe Nuwejaarsdae wat hul asem ophou.
Eers later het die groot geraas gekom: die kuier, die gesels, die musiek en die radiostasie se aftel na die geheimsinnige 00:00, wat net ’n skrale sestig tellings daarná so volmaak bly. Toe was daar vuurwerk en die brul van motorenjins en ’n gejil. Nog later die onweerstaanbare taboe van chinese lanterns, oral om ’n mens aangesteek en die lug ingestuur ondanks waarskuwings oor brandgevaar en verwarring wat dit vir die NSRI skep én vir bote op die see en oor die besoedeling.
Die Nuwejaarsvieringe aan die kus was ’n keer of wat iets nuuts.
Tog – eenmaal lank, lank gelede het ’n mens die nuusbulletin om 19:00 op SABC gekyk en jou daaraan verwonder dat die jaartal reeds in Australië verwissel het, met die flitsende beelde van ’n skouspelagtig verligte Sydney-operahuis en skares fuifende mense wat oplos in die nuus se kenwysie en die alledaagsheid van die weerbulletin daarna. Die son sal weer skyn, môre, soos elke dag daarvoor. Uit die een of ander rigting sal die wind waai. Daar is ’n vae kans op reën. So 30% om presies onseker te wees. Ook, dit sal maar deeglik warm wees, want jaarbegin is ook kort voor die bloedigste van die Vrystaatse somer.
Op daardie Oujaarsaande was die spesiale TV-programme wat ’n mens na die groot middernag moes begelei nog iets soos musiekkonserte van Bryan Adams of Roxette. Daar was advertensiebreuke tussenin. Daar was tyd vir opspring en ketel aansit; in die koskas gaan loer vir koekies of beskuit.
Die radio kon opsigself diens doen, met jolige musiek en ’n inbellery en wat nog.
Daar was die kans vir blokraaie invul, of lees, of sit en gedagtes orden met pen op papier.
Eindelik was die stilte nogtans al wat oorbly.
Die nuwe jaar het ’n mens op die grasperk kom kry, skoon kriewelrig van muskietbyte maar tevrede, absoluut onbewus van presies wanneer die kritieke sekonde aanbreek of vir ewig wegglip, asemloos oor die magdom sterre daar bo en skoon duiselig gedink – sonder om ooit ’n aks daarvan te begryp – die ligjare wat dit neem vir die skittering om ons te bereik.
Nuwejaar het ’n mens ook meer as een keer aangetref waar jy in jou slaapkamer op die vensterbank sit, met die een skouer by die venster uit. Soos ’n spantou-arties op die grens. Halflyf in die knus bekende, half in die soel onbekende.
Daar was nie wroeging oor wat was nie. Bestekopname oor ontwikkeling en vooruitgang en sukses bereik of die teleurstellende gebrek daaraan nie. Daar was nie ongegronde kommer oor dit wat kom nie.
Waar was jy met die groot oorgang na 2000, vra mense graag dié soort vraag. As matrikulant? Ander kere? Dit kon maklik ’n vensterbank wees. Sterk onder die indruk van die wêreld wat in vervoering is, elders, orals. Terselfdertyd seker dat dit nie eintlik ’n verskil maak nie. Gerusgestel dat die volgende oggend sal aanbreek met geluide uit die kombuis, ’n stoel wat uitgetrek word, stemme wat gesels. Dat die wind daar buite sal waai, uit die een of ander rigting. Dat die son sal weer skyn, môre, soos elke dag daarvoor.