Skrywers staan voor in die ry om kompetisie te wen

NB-uitgewers se drukname Human & Rousseau en Tafelberg het hul finaliste in die afdelings vir kinderverhale en verhale vir jong volwassenes bekend gemaak.


NB-uitgewers se drukname Human & Rousseau en Tafelberg het hul finaliste in die afdelings vir kinderverhale en verhale vir jong volwassenes bekend gemaak.

Nog ’n manuskrip van Fanie Viljoen is ’n benoemde in ’n kompetisie wat onder meer verhale vir jong volwassenes beoordeel. Een van sy manuskripte is onlangs as die wenner in Lapa se jeugromankompetisie aangewys. Foto: Argief

In die afdeling vir verhale vir tieners of jong volwassenes, vir kinders ouer as 13 jaar, is die volgende finaliste benoem:

  • Fanie Viljoen met Sny hulle in sterre uit;
  • Sandy Schoeman met Chakalaka uit ’n blikkie; en
  • Celeste Loriston met Pagama vir die Six.

In die afdeling vir kinderverhale, vir lesers agt tot 12 jaar oud, is die volgende finaliste benoem:

  • Celeste Loriston met Kwini-Lee en die kuberkraker;
  • Karla Cloete met Wikus se wetenskaplike dagboek; en
  • De Wet Hugo met Die doodgelukkige bure.

Een wenner sal in elke afdeling aangewys word, met prysgeld van R50 000 vir elk.

Altesaam 104 manuskripte, talle deur debuutskrywers, is vir die kompetisie ingeskryf. Beoordeling het anoniem plaasgevind, dus kon skrywers op gelyke vlak meeding.

Die beoordelaars van die manuskripte vir agt- tot 12-jariges was Mia Oosthuizen, Kobus Geldenhuys en Jaco Jacobs. In die ander afdeling was die beoordelaars Marita van der Vyver, Cliffordene Norton en Susan Samuel.

Vir Norton was dit ’n uitstekende geleentheid om ’n beoordelaar te wees.

“Ek het as ’n skrywer en leser soveel ryker ná die proses weggestap. Daar was ’n paar uitsonderlike verhale van hoë gehalte, en ek kan nie wag dat die Afrikaanse lesers hierdie verhale geniet nie. My gunstelingverhaal kan ek in twee woorde opsom: ‘Love dit!’ Die verhaal bied ’n lig, maar emosionele, blik op die uitdagings en triomf van die tienerjare, en sal die leser bybly lank nadat hulle dit gelees het.”

Geldenhuys werk as vertaler gereeld met oorsese tekste.

“Ek is opgewonde en trots dat hierdie drie uiteenlopende, maar ewe opwindende, manuskripte uit eie bodem kom. Van die ander inskrywings sal waarskynlik ook ná verdere ontwikkeling gereed wees om jong Afrikaanse lesers op verskillende ervaringsreise te neem.”

Die wenners word op 15 April bekend gemaak. Die wentitels word onderskeidelik deur Tafelberg en Human & Rousseau uitgegee en verskyn teen die einde van 2024.

Michelle Cooper, uitgewer en hoof van kinder- en jeugboeke by Tafelberg, sê die 104 inskrywings het al haar verwagtinge oortref.

“Ek is natuurlik baie opgewonde oor die vooruitsig om die wenners se boeke uit te gee, maar benewens hierdie ses finaliste is daar nog baie belowende manuskripte wat verder ontwikkel kan word. Ek hoop dat jong lesers nie anders sal kan as om, soos Cliffordene, ‘Love dit!’ uit te roep by die lees van ons wenboeke nie.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.