Ná die baie suksesvolle Jeug- en Landboudag wat die Hoërskool Reitz verlede jaar aangebied het, loop die opwinding baie hoog vir vanjaar se geleentheid wat op Vrydag 21 April sal plaasvind.
Die Reitz Landbou Akademie, wat geïnkorporeer is by die Hoërskool Reitz, bied hierdie geleentheid aan om die publiek te wys wat alles by hierdie skool vermag word. Asook om die klem op landbou en die toekoms wat landbou in ons land speel, te ondersteun en te bevorder.
Volgens Uys le Roux, skoolhoof van Hoërskool Reitz, beloof die dag om groot pret vir klein en groot, jonk en oud te wees.
“Julle sal sien, landbou is régtig lekker,” sê hy.
Die hekke by die skoolterrein sal om 10:00 open en besoekers kan hulle gereed maak vir allerlei prettige speletjies en ’n wonderlike dag met iets vir elke lid van die gesin.
“Ons gaan bokdrolle spoeg, skape tel, bale dra, kettie en skyfskiet, trekker en stroper ry, mielies skoonmaak, dekgewasse uitken en sommer nog vele meer. Ons het vir vanjaar nog ’n hele arsenaal nuwe speletjies uitgedink om voort te bou op die sukses van verlede jaar.
“Daar is allerhande kompetisies waaraan besoekers gratis kan deelneem en ’n hele klomp pryse wat op die spel is,” sê Le Roux.
Daar is drie trofee-kategorieë waarin deelgeneem kan word, naamlik kleuter, junior en senior.
“Kom daag dus gerus die vorige jaar se wenners uit en kom wys jou staal.”
Een van die groot trekpleisters vir vanjaar se landboudag is die John Deere-stroper-simuleerder wat op die terrein gaan wees.
Jong, voornemende boere, wys hoe daar geboer kan word met die nuutste tegnologie wat tot die bedryf se beskikking is.
Op die terrein is daar ook ’n kleuterskool waar ouers die kleinspan kan los sodat hulle daar onder goeie toesig na hartelus kan speel, terwyl Pa en Ma ongestoord die terrein kan verken en aan die aktiwiteite kan deelneem.
Ter innerlike versterking beloof die kosstalletjies alles waarvoor besoekers kan wens, want wat is so ’n dag sonder ‘n propvol spyskaart met heerlike beloftes.
“Verlede jaar was die beesstert, skaapkop, afval, rafelvark-burgers en hoendersosaties die topverkopers.
“Vanjaar kom daar selfs ’n paar ander geregte by, soos skaapstertjies, pap en kaiings, heerlike koffie en sommer nog ’n paar ander verrassings ook,” sê Le Roux.
Die skool wat die meeste kinders vir deelname bring, wen R5 000. Die leerling wat dit reël, kry ’n verdere R500. Almal word hartlik uitgenooi om die heerlike geleentheid by te woon.
Le Roux sê die skool is opgewonde om al die besoekers te verwelkom.
Bel Anneke Smith by 073-159-0821 vir meer inligting.