Die vreugdevure het hoog gebrand tydens die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem se 120ste bestaansjaarvieringe, wat saam met die skool se vyfde wildsfees plaasgevind het.
Die naweek van 3 September was gepak met hope vermaak vir oud en jonk, met meer as 3 000 besoekers aan die Voortrekker Wildsfees. ’n Vrolike atmosfeer soos by talle gewilde kunstefeeste was tasbaar.
Meer as 10 jaargroepe het tydens die naweek hul reünies hou.
Saterdag om 08:00 het die bergfietswedren plaasgevind. Een van die vele hoogtepunte vir die dag was die selfgemaakte stokperdresies wat vir die eerste keer by Voortrekker aangebied is. Die verskillende spanne met hul stokperde het vir groot opwinding en pret gesorg. Perdejoggies wat aan die perdewedrenne deelgeneem het, het behoorlik mekaar laat les opsê en ’n paar het selfs geval en hard met Moeder Aarde kennis gemaak.
Verskeie sangers het die gehoor deur die dag vermaak en rugbygeesdriftiges kon die wedstryd tussen die Springbokke en Australië op ’n grootskerm kyk. Dit was ’n lieflike, warm lentedag en besoekers kon heerlike koue lafenisse in die biertuin geniet. Verskillende eksotiese wildshappies soos seekoei en krokodil was gratis vir die feesgangers om aan te smul en heerlike wildsgeregte was te koop aangebied.
’n Skouspelagtige seremonie is aangebied met die aansteek van 120 vuurdromme, in die vorm van die getal 120. “Ons is dankbaar vir ’n heerlike, suksesvolle en feestelike naweek. Dit was ’n voorreg en ’n riem onder die hart om die reuse-mylpaal te kon vier, ” sê Benette Britz die onderhoof van Voortrekker.