By die Hoërskool Fichardtpark, wat vanjaar sy 40ste bestaansjaar vier, het die jaar op ’n hoogtepunt begin met talle matrieks wat uitgeblink het in die Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen van 2023.
Boonop is die skool aangewys as een van die vyf topskole in die Vrystaat wat wiskunde in dié eksamen betref.
Die skooljaar het ook begin met ’n lekker kamp vir die nuwe gr. 8-leerlinge, waarop hulle die gees van Fichie-wees kon leer ken.
Op sportgebied het die skool verlede jaar vele hoogtepunte beleef.
Die skool se eerste seunshokkiespan het die stadsbeker, die Wesgrow-beker, asook die Vrystaat-beker in sy afdeling gewen.
Die skool se eerste rugbyspan, die Fichie Leeus, is as die Wesgrow-kampioen gekroon.
Ook die o.15- en o.16-rugbyspan het in hul afdeling in die stadsliga gewen.
Twee spelers van die Hoërskool Fichardtpark is vir die Cravenweekspan, en een is vir die Suid-Afrikaanse skolespan gekies.
Verder is vyf o.16-spelers in die Grand Khomo-span ingesluit; drie o.18-rugbyspelers is in die Akademiespan ingesluit en drie is as Vrystaatse Arende gekies; en vier o.19-spelers is Vrystaatse Arende.
Die skool se eerste krieketspan was ’n finalis in die o.19-Motheo-krieketliga.
Veral in atletiek het leerlinge ’n baie goeie jaar gehad. Die span het op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus (PUK) se top-30-byeenkoms gemiddeld 882 punte verower en daarmee ’n eerste plek in die C-afdeling behaal.
In Tuks se top 10-byeenkoms van die Universiteit van Pretoria (UP) was die span die wenner in die C-afdeling, tweede in die B-afdeling en agtste in die A-afdeling.
Altesaam 18 atlete is in die Vrystaatse skole- en Vrystaatse junior-atletiekspan ingesluit.
Op die Suid-Afrikaanse junior spele, asook in die Suid-Afrikaanse Skoleatletiek-kampioenskap, het die atlete sewe brons-, sewe silwer- en drie goue medaljes verower.
Op kultuurgebied het die drama Die Leser tien goue, drie silwer en twee brons-eerbewyse in kompetisies verwerf. Die produksie is op die Aardklop Pronk Podium opgevoer, waar die stuk algeheel vierde was. Op die FAK-toneelfees is die produksie met ses silwer- en ses bronsmedaljes beloon.
Om dié skool wat in 1984 gestig is se 40ste verjaardag vanjaar te vier, is die jaar begin met die Kovsie Smash-kriekettoernooi, waaraan 16 skole deelgeneem het. Fichardtpark was algeheel derde.
Die Hoërskool Fichardtpark bied weer op 1 en 2 Maart sy jaarlikse sportdag aan, en ongeveer 4 500 leerlinge sal in rugby, netbal, hokkie, tennis, golf, skiet en skaak teen mekaar meeding.