Skones maak organisasie se hande sterk

Op ’n glansryke geleentheid op 21 September is twee nuwe ambassadeurs vir die ChangeNetSA-organisasie in Bethlehem bekend gestel.


Op ’n glansryke geleentheid op 21 September is twee nuwe ambassadeurs vir die ChangeNetSA-organisasie in Bethlehem bekend gestel.

Adele Fourie, semifinalis in die Mev. Heelal Suid-Afrika-kompetisie, en Yulienke Jacobs, Miss Teen International Suid-Afrika, is op dié geleentheid as die nuwe ambassadeurs vir ChangeNetSA se nasionale beweging aangewys.

Die bekendstelling het by die New Horizon College-saal in Bethlehem plaasgevind.

Derrich Gardner, welbekende radio-en televisiepersoonlikheid wat veral bekend is vir sy programme op RSG, naamlik Brêkfis met Derrich en die Via-reeks Tuintoere, het as seremoniemeester opgetree.

Op sy meelewende, professionele manier het Gardner die aand se verrigtinge gelei, en gaste het dit geniet om hom in lewende lywe te ontmoet.

Justice en Anita Scott, stigters van ChangeNetSA, het op die geleentheid die gehoor ’n oorsig gegee van die organisasie se werksaamhede van die afgelope vyf jaar, asook die planne om hul vlerke nasionaal te sprei.

Die twee nuwe ambassadeurs het elk ’n lyfband ontvang en die gaste hul visie vir ChangeNetSA meegedeel.

Fourie sal hoofsaaklik die volwasse deel van die verteenwoordigende taak behartig, terwyl Jacobs op die jeug sal fokus.

Die Scott-egpaar het alle eer aan die Hemelse Vader gegee vir leiding, in reaksie op die klipwerke wat hulle ontvang het om dankie te sê vir wat hulle in die gemeenskap tot stand gebring het.

Fourie, wat bekend is vir haar goue stem, het gaste op ’n lied van Lucas Maree getrakteer.

Die Asrivier-tak van die Vrouelandbou-Unie (VLU) het sop en brood bedien. Alda van der Merwe van die VLU het die aand gekoördineer.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.