’n Bethlehemiet is onder die tien topdeelners in die Mev. Heelal Suid-Afrika-skoonheidskompetisie vir 2024. Op 28 Oktober is Fourie by die Balaika-hotel in Sandton uit 17 semifinaliste as een van die finaliste aangekondig.
Dié skoonheids- en veelsydigheidskompetisie is gemik op sakevroue en entepreneurs wat ’n direkte invloed op hul gemeenskappe het.
Adele Fourie (38) is ’n kranige sakevrou en haar betrokkenheid by die plaaslike DBV, Pathway en as ambassadeur van ChangeNetSA maak haar boonop ’n goeie kandidaat.
Haar alma mater, die Laerskool Jordania in Bethlehem, het haar op 2 November op sy jaarlikse prysuitdeling vereer.
Fourie het die trofee vir uitnemendheid ontvang vir haar bydrae in die gemeenskap en die skool.
Sy is bekend vir haar sang en toneelspel en het onlangs ’n rol gespeel in die musiekblyspel Jorrieville, wat deur Jordania aangebied is.
Fourie het haar skoolloopbaan aan die Laerskool Jordania begin en het aan die Hoërskool Witteberg matrikuleer.
Daarna het sy haar in gasvryheidsbestuur aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) in Bloemfontein bekwaam.
Sy en haar man, Jacques, bedryf hul eie sakeonderneming in Bethlehem, en in 2020 het Fourie haar as ’n eiendomsagent gekwalifiseer. Sy hanteer die verkope van residensiële eiendomme en plase. Die egpaar het twee seuns: Marckus (9) en Zaine (7).
Danksy ondersteuning van vriende, familie en plaaslike sakeondernemings streef sy om haar bes te doen.