Die jaarlikse VKB-rugbyweek-toernooie wat in die Junie-Julie-skoolvakansie plaasvind, was vanjaar weer ’n reuse-sukses.
Die geleenthede is weer in Frankfort en Reitz aangebied, waar 38 rugbyspanne – altesaam 870 rugbyspelers – van 23 Junie tot 6 Julie meegeding het.Die toernooie was onderskeidelik vir o.13-, o.16-, o.19- stedelike en o.19- plattelandse spanne.
Die doel van die VKB-rugbyweek is om aan ontluikende spelers wat nie vir Cravenweekspanne gekies is nie ’n geleentheid te bied om aan ’n soortgelyke geleentheid deel te neem.
Hoewel die o.13-week in koue en nat weer plaasgevind het, is uitstekende rugby opgelewer en is wedstryde goed deur ouers en toeskouers ondersteun.
Die o.16-week kon, in heerlike weer, toeskouers met dissipline en spangees beïndruk. Spanbou-speletjies is deur die Hoërskool Wilgerivier in Frankfort aangebied, waar die professionele speler Deon Stegmann die seuns toegespreek het.
Op die o.19- stedelike week het fantastiese sportmangees geheers, en die spanne is goed ondersteun. ’n Spesiale woord van dank gaan aan die kostannies, Esmé en Loni, wat verseker het dat heerlike kos geniet kon word.
Die o.19- plattelandse week is deur ’n tipies plattelandse gees gekenmerk. Ook hier het verskeie pret-aktiwiteite plaasgevind, tussen die sewesrugbywedstryde, soos uitdagings oor wie die verste of akkuraatste kon skop. Baie mooi pryse van Living Ball is aan die onderskeie wenners oorhandig.
Die VKB-rugbyweek het al twee Springbokke opgelewer: Juan Smith en Deon Stegmann. Hoewel Stegmann ook Cravenweekrugby gespeel het, is die VKB-week Smith se hoogste verteenwoordiging as skolespeler.
Jason Jenkins, slot vir die Suid-Afrikaanse o.20-span, en Elandré Huggett, wat vir die Cheetahs se Superrugby-span gespeel het, het albei aan hierdie toernooie deelgeneem.
In vanjaar se rugbyweek-toernooie het die spanne se uitstekende spel, dissipline en entoesiasme, asook puik organisasie, die VKB-week se goeie naam uitgedra.
Spelers, afrigters, spanbestuurders, ouers en ondersteuners is dit eens dat al die toernooie uitstekend deur Hoërskool Wilgerivier en Hoërskool Reitz gereël is. VKB bedank die personeel van albei skole vir hul toegeneentheid teenoor dié sportsoort en VKB.
VKB bedank al die organiseerders, afrigters, spanbestuurders en elke ouer betrokke wat deur toegewyde beplanning en harde werk van die VKB-rugbyweek ’n onvergeetlike ervaring gemaak het.
Uitslae
In die o.13-toernooi het die Vrystaat Cheetahs die Griffons geklop om as die uiteindelike wenner uit die stryd te tree en die Titans het Oostelike Provinsie in die o.16-week uitgestof. In die o.19- stedelike toernooi was dit die Blou Bulle wat die WPNS laat les opsê het, en in die o.19- plattelandse toernooi het die Luiperds oor die Rooikatte geseëvier.
Die beste voorspeler in die o.13-toernooi was Bernard van Eeden van die Griffons, in die o.16-toernooi was dit Duncan Beaven van die Titans, in die o.19- stedelike toernooi het Rudolph Hattingh van die Arende die meeste beïndruk en Jono Jacobs van die Rooikatte is as die o.19- plattelandse toernooi se beste voorspeler aangewys.
Die beste agterspeler onder die o.13-spelers was Ian de Jong van die Vrystaat Cheetahs, die o.16-speler Nthabeleng Matole van die Titans het in sy toernooi beïndruk, in die o.19- stedelike toernooi het Justin Tattersall van die Blou Bulle die beste spel as agterspeler gelewer en Dino Zeekoei van die Griekwas is vir sy spel in die o.19- plattelandse toernooi erken.
Spanne wat daarvoor uitgesonder is dat hulle aanskoulike rugby gespeel het, is die Vrystaat Cheetahs, Oostelike Provinsie, Blou Bulle en die Rooikatte.
Die twee voortreflikste spanne was die WPNS se o.19-stedelike span en die Pumas se o.19- plattelandse span.
Die spelers se speler van die week was Lashe Disu van die Lynx se o.19- stedelike span en Tiaan Pretorius van die Rooikatte se o.19- plattelandse span.