Skole help om winter warmer te maak

Die ATKV Bethlehem Redenaars-tak bied jaarliks sy kombersprojek ten bate van behoeftiges in die gemeenskap aan.

Skole in Bethlehem was by die ATKV Bethlehem Redenaars-tak se jaarlikse kombersprojek betrokke. Die Hoërskool Witteberg, wat daarin kon slaag om 828 komberse vir die projek in te samel, het R25 000 gewen.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Die ATKV Bethlehem Redenaars-tak bied jaarliks sy kombersprojek ten bate van behoeftiges in die gemeenskap aan.

Vanjaar is die projek in samewerking met Dihlabeng Mall aangepak.

Danksy skole in Bethlehem se betrokkenheid is 1 611 komberse ingesamel. Hiervan is 828 deur die Hoërskool Witteberg bygedra.

Die finaliste van die Mnr. en Mej. Witteberg-kompetisie moes elk tien komberse insamel, en ander leerlinge kon ’n kombers of R30 skenk.

Met die geld het Alda van der Merwe lap gekoop om komberse vir die projek te maak.

Volgens Johané Muller van Dihlabeng Mall, een van die organiseerders, het die Lawwe Lyfies-kleuterskool en die Hoërskool Witteberg die meeste komberse vir die projek ingesamel. Albei skole het R25 000 gewen.

Met ’n bydrae van 330 komberse het die Hoërskool Voortrekker R10 000 ontvang.

“Dihlabeng Mall was jaarliks by skoolborgskappe betrokke, maar weens die pandemie het die uitdagings groter geraak en was dit nie moontlik om almal te borg nie,” sê Muller.

“Ons het die begroting van R60 000 gebruik om as prysgeld toe te staan vir die skole wat die grootste verskil in die jaarlikse kombersprojek gemaak het. Ons is dankbaar vir die uitkoms en sien uit na nog vele gemeenskaps­projekte in samewerking met ons skole.”

Volgens Sumaré Pieterse van die ATKV-jeugtak was dit hul doelwit om soveel moontlik komberse vir die projek in te samel.

Fires van Niekerk van die ATKV Bethlehem Redenaars-tak het reeds van die komberse aan behoeftiges begin uitdeel.

“Die skole se bydrae is afgehandel, maar die projek strek nog tot einde Mei,” sê hy.

“Enigeen kan steeds die projek ondersteun, en heerlike pryse is op die spel.”

  • Belangstellendes kan Van Niekerk by 083-630-8545 bel om meer inligting te bekom.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.