Skep asem langs uitmergelende pad

Ek staan in die woonkamer toe ek die malende, donker wolk van ’n byeswerm opmerk wat soos ’n dwarrelwind oor die buurman se afdak naderkom.


Ek staan in die woonkamer toe ek die malende, donker wolk van ’n byeswerm opmerk wat soos ’n dwarrelwind oor die buurman se afdak naderkom.

Blitsig trek ek die glasdeur van die woonkamer toe, toe ek besef die swerm pyl reguit op ons erf af. Met groot nuuskierigheid en verwondering hou ek die bye dop terwyl hulle in ’n holte van die roosmarynbos vlieg en vinnig daar saambondel.

Ek wonder of die swerm dalk warm kry en net wil rus.

Naarstigtelik begin ek telefoonnommers opsoek van byekenners of boere wat dalk die swerm sagkens sal kom verwyder indien die bye sou besluit om nes te skop.

In my gesoek om raad op die internet kom ek op ’n bye-handleiding deur Klein Karoo-saadproduksie af en lees ek die volgende raak: Byeswerms word in die lente of vroeë somer gevorm ná ’n tyd van oorvloed kos waarin die bevolking van die byekorf so toeneem dat ’n deel van hulle moet wegtrek om oorbevolking te voorkom. ’n Swerm wat trek, bestaan uit die ou koningin en omtrent 60% van al die werkers en hommels.

Ontluikende koninginne bly in die byekorf agter. Verkenningsbye gaan soek ’n geskikte plek waar hulle ’n nuwe nes kan vestig.

Ek skraap moed bymekaar en gaan draai die kraan oop om die bedding by die roosmarynbos en die gras nat te lei. Dalk is die bye dors. Skielik skiet daar weer ’n gemaal op voordat die bye tot bedaring kom, en ek hardloop die huis in. Ek hou die swerm dop, wat dadelik weer dig saambondel, en ek neem aan dit is om die koninginby te beskerm en haar te help afkoel. Sowat ’n halfuur later styg die bye stelselmatig op en verdwyn in ’n gemaal oor die afdak.

Mag ons in al die nuwe seisoene van ons lewe eers ’n bietjie rus, asem skep, afkoel en ’n geskikte plek soek voordat ons weer die gemaal saam met die swerms van die lewe aanpak en nuwe korwe bou.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.