‘n Versamelaar van Kroonstad se liefde en passie vir verskeie interessanthede en modelkarretjies is tasbaar wanneer hy van sy jarelange versamelings vertel.
Die 63-jarigie Willie Marais, ‘n boorling van Kroonstad, sê hy het begin versamel om ‘n nalatingskap vir die volgende geslag agter te laat. Hy versamel nie vir ‘n finansiële gewin nie maar bloot vir die pret daarvan.
“Dit bring my baie vreugde en genot om na iets spesifiek te soek en dan die kosbare item op te spoor,” sê Marais.
Hy versamel graag skaars items, maar fokus hoofsaaklik nou op modelkarretjies en slotmotortjies.
In sy uitgebreide versameling het hy twee Mamod-speelgoed stoomenjins, Russiese houtspeelgoed, ‘n Koekoek-horlosie in werkende toestand, ‘n groot versameling van Coca-Cola miniatuurbotteltjies, sy oupagrootjie se knipmesse asook baie skaars Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens (SAS&H) sakhorlosies.
Hy het voorheen heel moontlik die tweede grootste versameling van naelknippers in die land besit, wat ongeveer 700 plus naelknippers insluit het.
“Meeste van die naelknippers was van Amerika ingevoer met snaakse vorms.”
Hy het ook naelknippers besit wat bykans 120 jaar oud was. Toe hy na ‘n meenthuis verhuis, moes hy egter van die meeste ontslae raak en het hy net die mees seldsame naelknippers gehou.
In sy verskeidenheid versamelings is daar ook ‘n Volkskas-spaarblikkie wat pennies, sjielings en trippense bevat. ‘n Paar skaaltjies waaronder ‘n ou goudskaaltjie en nog vele items om net ‘n paar van sy reuse en baie interessante versamelings te noem.
In 2017 het die gogga gebyt om modelkarretjies te veramel en op die stadium het Willie ongeveer 750 verskillende karretjies in sy versameling. Die modelkarretjies word oral in sy huis agter glas in vertoonkaste uitgestal.
“Die karretjies bring my kindwees terug en ek geniet dit ongelooflik baie en doen moeite om die karretjies wat ek regtig opsoek is, te vind.”
Onlangs het Willie R 400 vir ‘n Lesny Matchbox “playworn” Ford Capri betaal, wat in 1970 slegs vir 50 sent verkoop is.
“Ek was lank opsoek na die karretjie en het nie een oomblik gehuiwer om R400 daarvoor te betaal nie.”
Anders koop hy karretjies by kettingwinkels of op Facebook-groepe aan. Hy het 200 plus modelkarretjies uit ‘n boedel aangekoop van ‘n vriend wat aan Covid-19 dood is. Van sy karretjies is meer as ‘n R1 000 werd – sy kosbaarste motortjie is ‘n blikmotor wat uit die 1960’s dateer. “Die motor het ek in Sedgefield by ‘n vlooimark opgespoor.”
Willie en drie vriende wat sy passie vir karretjies en slotmotortjies deel – Juan Kleingeld, Dries du Toit en Charlie Frost – het onlangs ‘n slotmotorklub genaamd JJK Raceyway in Kroonstad begin. “Die klub is nog in sy babaskoene maar ons het reeds 20 lede van die ouderdom vier tot 72 jaar. Willie sê hulle werk baie hard om van die klub ‘n reusesukses te maak en sê ouers is dankbaar, want nou kan kinders ‘n heerlike stokperdjie beoefen en die tegnologie bietjie agter laat.
“Slotmotortjies is ‘n sport wat landswyd beoefen word en wat naweke wedrenne aanbied.”
Belangstellendes kan Donderdagaande van 17:00 tot 20:00 by die klub kom inloer, op die hoek van Schoeman- en Pellisierstraat in Kroonstad, om so meer oor die klub se bedrywighede uit te vind. ‘n Lekker stokperdjie vir oud en jonk en wat as gesin saam beoefen kan word.
Die eerste maand by die klub is gratis en Kleingeld se kundigheid en kennis oor die stokperdjie word goed ingespan.
Vir meer inligting, bel vir Kleingeld op 083 417 6387, Du Toit op 082 429 6634, Frost op 082 577 0842 of Marais op 083 691 7883.
Willie het einde Mei vanjaar op pensioen gegaan na 44 jaar se diens by Transnet en spits hom nou toe op sy stokperdjie en versamelings.






