Skatkis van stories en vriendskappe om lang tafel ontgin

Inwoners van Rosendal en besoekers het heerlik saam om ’n lang tafel in een van die strate in die dorp gekuier om die lewe en die vreugdes ná die strenger inperking te vier. Dié kuier in die straat het op Saterdag2 Oktober voor Benjamin’s, restaurant van die bekende radio-sjef Frik de Jager, plaasgevind.


Lang tafel

Frik de Jager, eienaar van die restaurant Benjamin’s in Rosendal, bied twee keer per maand ’n langtafel-kuier in die straat voor sy restaurant aan.
lang tafel

Die gedekte lang tafel in die staat voor Frik de Jager se restaurant Benjamin’s bring mense, kos en stories saam.
Inwoners van Rosendal en besoekers het heerlik saam om ’n lang tafel in een van die strate in die dorp gekuier om die lewe en die vreugdes ná die strenger inperking te vier.

Dié kuier in die straat het op Saterdag2 Oktober voor Benjamin’s, restaurant van die bekende radio-sjef Frik de Jager, plaasgevind.

“Daar is niks so lekker soos om gesellig saam te kuier en ’n bietjie sorgloos te wees nie,” sê De Jager.

“Die inperkingstyd was vir ons almal moeilik. Mense was siek en sommige het dit nie oorleef nie en die mens is gemaak vir samesyn. Daarom het ons besluit om die langtafel-kuier vir die inwoners en besoekers aan te bied.”

Die idee van die langtafel-kuier is deur De Jager in sy restaurant begin.

Op dié geleenthede kook hy ’n storm los en vertel dan ’n storie wat aan elke gereg gekoppel is aan sy gaste.

“Elke geleentheid is besonders. Mense kom kuier van oraloor saam en die skatkis van stories, en vriendskappe wat gesmee word, is van onskatbare waarde.”

“Omdat ons bykans 50 km van die naaste kettingwinkels af woon, moet ’n mens kreatief raak en soms eksperimenteer met dit wat tot jou beskikking is. Dan gebruik ek natuurlik my ma en ouma se handgeskrewe resepteboeke vir die basiese resep, maar ek werk ook om dit met ‘n knypie hier en ’n grypie daar.”

De Jager sê dat die Here die mens immers geskape het om sosiaal en gesellig saam te kuier, daarom is die geleenthede vir hom baie besonders.

As radio-sjef deel hy sy resepte en stories op die gewilde Klets en Kook-program wat weekliks op RSG uitgesaai word.

Hy het onlangs sy kookboek Storiekos/Foodtelling, wat tydens die grendeltyd ontstaan het, bekend gestel. In die boek deel hy soos op radio sy gewildste resepte, passie vir kos en wedervaringe met kos en ander kulture van oor die wêreld heen. 
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.