’n Tasbare, polsende energie heers met dié dat skoolaktiwiteite volstoom aan die gang is, en natuurlik omdat die Vrystaat met sy matriekuitslae weer stof in die res van die land se oë geskop het.
Die matrieks van 2023 het ’n opskudding veroorsaak toe die provinsie ’n vierde jaar agtereenvolgens die beste matriekslaagsyfer opgelewer het.
Die landwye slaagsyfer was 82,9 %, wat ’n verbetering is op 2022 se 80,1%. Die Vrystaat spog vanjaar met ’n presentasie van 89%.
Meer as een wolk hang egter oor dié skitteruitslae.
’n Verslag wat deur die departement van basiese onderwys uitgereik is, het bekendgemaak dat slegs 47,39% van die 1 209 miljoen kinders wat in 2012 in gr. 1 was, verlede jaar hul matriekeksamen afgelê het.
Ook, hoewel die Vrystaat weer met die hoogste matriekslaagsyfer spog, het byna 40% van die gr. 10-leerlinge in dié provinsie verlede jaar gedruip.
Verskeie debatte word nou gevoer oor wat die aanvaarbare minimum vereistes moet wees om matriek te slaag; asook wat die tekorte in die onderwysstelsel is.
Om matriek te slaag, moet leerlinge vir hul huistaal en nog twee vakke ’n punt van 40% behaal; vir die oorblywende vakke is ’n skamele 30% nodig.
Volgens kenners is dit kritiek laag en moet die minimum vereiste verhoog word om die Nasionale Seniorsertifikaat betekenis te gee.