Opknappingswerk aan die verwaarloosde lapa by die eens gewilde Pretoriuskloof-natuurreservaat in Bethlehem, wat weens verval ’n groot veiligheidsrisiko inhou, word skynbaar deur die Dihlabeng-munisipaliteit gedoen.
Dit kom ná verskeie navrae en druk wat deur raadslede op die gemeenskapsdienste-afdeling van dié munisipaliteit geplaas is.
Raadslede wou onder meer weet of die munisipaliteit wel ’n versekeringseis ingedien het en of die eis opgevolg is; ook wanneer die opknappingswerk aan die lapa sou begin.
“Daar word tans by die lapa gewerskaf, dus wil dit voorkom asof die versekeringseis suksesvol was. Nog geen terugvoering is egter ontvang op navrae wat ek gerig het om dit te bevestig nie. Ons hoop dat besoekers aan Pretoriuskloof binnekort onder ’n nuwe lapa kan kuier,” sê Estie Senekal, DA-raadslid.
Sy sê die vordering word gemoniteer, en druk sal op die munisipaliteit geplaas word om die herstelwerk af te handel en instandhouding te doen.
VrystaatKroon
het navrae aan die munisipaliteit gerig om die huidige stand van sake vas te stel en wag nog op terugvoering.