Met sirenes wat loei het lede van AfriForum, veiligheidsmaatskappye en nooddienste by die Universitas- Akademiese hospitaal aangekom om kinders wat vir kanker behandeling ontvang, Donderdag (16/0) te verras en te ondersteun.
Sonet van Zyl, bestuurder van Choc-huis, wat verblyf verskaf vir kinders wat kankerbehandeling ontvang asook hul ouers, sê dit was lekker dat die kinders so ’n bietjie bederf is.
Internasionale Kinderkankerdag word jaarliks op 15 Februarie gevier.
“Dit was vir ons maar ’n moeilike week,” het Sonet by die geleentheid gesê.
“Ons het in drie dae vyf van ons kinders aan die dood afgestaan.”
Tog bly talle kinders dapper veg teen dié siekte.
Een van dié kinders is Dian van Zyl (14) van Bethlehem. Hy en sy pa, Christopher, is sedert einde verlede jaar vir lang tye in die hospitaal sodat Dian behandeling kan ontvang.
Dian, ’n gr. 8-leerling van die Hoërskool Voortrekker, het verlede jaar in Oktober krieket gespeel toe hy erge maagpyn ontwikkel het. ’n Dokter het later ’n biopsie geneem en gevind dat ’n gewas in sy maag ontwikkel het.
Burkitts-limfoomkanker is by hom gediagnoseer en hy het by Universitas se kinderkankerafdeling met behandeling begin.
“Dit gaan nou sommer baie goed met Dian,” sê Christopher.
“Die gewas het baie gekrimp danksy die chemoterapie wat toegedien is.”
Hy sê die Bethlehem-gemeenskap is só goed vir hulle. “Daar is al allerlei geleenthede aangebied om geld vir Dian in te samel.”
Dian vertel van die pretstap, Sokkies vir Dian-projek en die plakkers wat leerlinge op hul krieketkolwe kan plak wat alles aangepak is om hom te ondersteun.
Roan Taljaard, veiligheidsleier van AfriForum se Uitsig-tak Sektor 4-buurtwag wat die saamtrek gereël het, het sy dank uitgespreek teenoor almal wat help om dié kinders hoop te gee.
“Daar is onder ons almal iemand wat deur kanker geraak word. Daar is mense wat kanker oorwin het, dié wat daarteen stry en dié wat iemand ken wat die stryd teen kanker verloor het.
Vir hierdie kinders, wat bly veg, sê ons: julle is ons helde.”
Elk van die kinders het inkleur-Bybelboeke as geskenke ontvang en daar was ook ander donasies wat aan CHOC gemaak is. Skenkings van nie-bederfbare kos is ook vir die CHOC-huis in Universitas ingesamel.