Kroonstad spog sedert begin Desember met ’n unieke restaurant wat beloof om aan elke kosliefhebber en fynproewer ’n ongelooflike ervaring te bied.
Art Café is die geesteskind van Maryna Serfontein en Kyle Kruger. Serfontein is welbekend in die dorp vir haar kwekery en kruiepraatjies, terwyl Kruger 24 jaar se ondervinding in die restaurantbedryf het en die afgelope tien jaar as sjef werk. Hy het al vir hooggeplaastes soos pres. Cyril Ramaphosa kos voorgesit.
Saam is dié twee ’n uitstekende kombinasie en vir seker die wenresep vir ’n besonderse restaurant.
“Ek het verlede jaar Oktober hier in Kroonstad kom nesskop, en nadat my pad met dié van Maryna gekruis het, was daar geen keer aan ons droom en kreatiwiteit om kunskos aan Kroonstad en besoekers van die omgewing voor te sit nie,” sê Kruger.
“Kosliefhebbers se smaaksintuig sal geprikkel word met onder meer vars kruie, in seisoen, waarmee ons geregte in kunswerke omtower.”
Die spyskaart van Art Café word daagliks beplan en geregte word só afgewissel. Die kos word vars, smaaklik en kunstig opgedien en selfs al die mengeldrankies op die spyskaart word met vars kruie uit die tuin gemaak en voorgesit.
Die restaurant, by Presidentstraat 37, word uit ’n woonhuis met ’n geskiedenis in die kunste bedryf.
Die milieu van die woonhuis, in kombinasie met ’n besonderse kunsversameling en pragtige meubels, betrek ook al die ander sintuie van elkeen wat by Art Café aansit om die kreatiewe geregte te geniet.
Hier word ’n volronde koservaring sonder gelyke gebied.