Ek weet nie van jou nie, maar ek het op hierdie oomblik die dringende behoefte aan goeie nuus. Die soort nuus wat nie net goedkoop clichés is en wat geen troos of hoop gee nie.
Ek het genoeg gehad van “Toe maar, eendag sal jy verstaan,” of “Elke donker wolk het ’n silwer rand,” of “Ek weet hoe jy voel.”
In ’n wêreld en lewe waar alles teen ’n ontstellende tempo agteruitgaan en uitmekaarval, en die chaos-magte lyk of hulle beheer oor hierdie wêreld begin neem, wil ek hoor: “Maar dit kan nie al wees nie, die wêreld kan nie net dit bied nie, daar moet meer wees.”
Daar is inderdaad. Ek hoor hoe die Hebreërskrywer sy lesers (wat waarskynlik gelowiges in Rome is) in hoofstuk twee bemoedig deur hulle daaraan te herinner dat ons maar ’n kort tydjie minder as engele gemaak is. Daarmee weet ons dat hierdie omstandighede nie vir altyd en ewig gaan aanhou nie; daar gaan genadiglik ’n tyd kom dat dit sal verbygaan. Wees gerus: “This too shall pass.”
Hy herinner hulle voorts dat hulle nie die volle prentjie nou al kan sien nie – hulle insig is eenvoudig te beperk daarvoor (vers 8). As hulle net met ’n gewone oog na alles in hierdie wêreld wil kyk, sal hulle niks meer sien as wat die ongelowiges ook sien nie. Daarom sê hy in vers 9 vir hulle: Maar ons sien Jesus, met eer en heerlikheid gekroon . . . Hy bemoedig hierdie moedelose mense met die waarheid van ’n geloofsoog wat hulle het om Jesus te midde van al die chaos om ons raak te sien.
Dit gee my hoop vir vandag en môre en elke dag, terwyl alles om my uitmekaarval. Ek sien Jesus. My oog is op Hom gevestig, Hy hou my veilig in sy hand, Hy sal my nooit in die steek laat nie, Hy is ons God. Loof Hom dus daarvoor.
Weideman is leraar aan die NG kerk Kroonheuwel-Noord in Kroonstad.