Die Jonker-sibbe van Heilbron is kookwater op die atletiekveld en het met die begin aan die seisoen vir 2024 behoorlik hul stempel afgedruk.
Jurie Jonker, ’n gr. 6-leerling aan die Hoërskool Heilbron, is ’n kranige diskusgooi- en gewigstoot-atleet.
Hy het op die Vaalrivier-byeenkoms ’n eerste plek in diskusgooi behaal; op die Noord-Vrystaat-byeenkoms ’n tweede plek; en in die Vrystaat-kampioenskap die algehele tweede plek.
In gewigstoot het hy op die Vaalrivier-byeenkoms ’n eerste plek verwerf; op die Noord-Vrystaat-byeenkoms ’n tweede plek; en in die Vrystaat-kampioenskap was hy algeheel derde.
Hy sal die Vrystaat-span op die nasionale byeenkoms, wat van 23 tot 25 Maart in Limpopo aangebied word, verteenwoordig.
Rudie, ’n gr. 4-leerling aan dieselfde skool, volg kort op sy ouboet se hakke.
Hy is op 24 Februarie op die Noord-Vrystaat-byeenkoms as die beste o.10-veldatleet vereer. Dit was vir sy deelname aan gewigstoot en verspring.
Hy het ook in die Vrystaat-kampioenskap die sesde plek in sy ouderdomsgroep in verspring behaal.
Die twee uitblinkers word deur hul pa, Jurie sr. , afgerig.
Die appel val beslis nie ver van die boom nie, siende dat hy op sy dag ook in atletiek uitgeblink het.
Jurie sr. boer by Heilbron.
Dan het hulle ’n nefie, Gerber Jonker, ’n gr. 7-leerling aan Trio Primêr in Kroonstad, wat in dieselfde sportsoort skitter.
Die Jonker-sibbe se grootste ondersteuner was hul oupa Rudi Jacobs, ’n nasionale rolbalspeler.
“Elke prestasie dra die twee boeties aan oupa Rudi op, wat in Februarie oorlede is,” sê ma Natassha.