Die droom van ’n rugbyklub in ’n township buite Clarens is bewaarheid toe die Shimlas hulle besoek het.
Lebote Miya (17), wat skrumskakel vir die Clarens Eagles speel, het in 2019 saam met ’n vriend ’n paar voornemende spelers bymekaar gekry wat ook deur die Wêreldbekertoernooi begeester is.
Lebota sê die Shimlas se besoek was ’n fantastiese ervaring.
Die Shimlas het op Donderdag 27 Januarie in Clarens opgedaag en die besoek deel van hul toer gemaak voordat hulle op Saterdag 29 Januarie in Welkom teen Wits gespeel het.
“Ons het nooit gedink hulle sal so gaaf met ons wees nie,” sê Lebote, ’n gr. 11-leerling aan die Moriting wa Thuto Senior Secondary School, waar die meeste van sy spanmaats ook skoolgaan.
Marius van Rensburg, voorsitter van die Shimlas-rugbyklub, sê die ervaring het hom en die spanlede nederig gemaak.
“Dit is ongelooflik hoe baie klein goedjies vir hulle beteken.”
Die Shimlas het vir die Eagles T-hemde gegee en hulle toegespreek, maar ook oomblikke van pret op die veld gehad.
“Ons spelers het vreeslik mooi met hulle gewerk. Dit was vir die studentespan ook insiggewend om te sien hoe lyk ouens wat regtig niks het nie.”
Ds. Jan Venter van die NG gemeente Clarens dien as een van die Eagles se afrigters. Aangesien hy en Van Rensburg as studente koshuismaats was, het Van Rensburg van die span geweet.
“Die Shimlas het in die verlede gemeenskapsprojekte gehad wat doodgeloop het. Toe dink ek aan die Clarens Eagles, wat verlede jaar weens die inperking nie met wedstryde kon voortgaan nie.”
Volgens Venter het Lebote, “klein in statuur met Faf as sy held”, hom in 2020 genader met ’n groot droom om ’n rugbyspan in Clarens te begin.
Vir Lebote was dit ’n manier om die seuns op straat te help.
Die span is in Maart verlede jaar amptelik gestig, met ’n bestuur wat uit verskeie sakelui, ’n ouer en ’n onderwys-assistent bestaan.
Paolo Bertuzzi, eienaar van ’n Italiaanse restaurant in die dorp wat meer as 12 jaar se ervaring van klubrugby het, het ook later as afrigter bygekom.
Waar die klub eers niks behalwe ’n bal gehad het nie, het verskeie skenkers, soos die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem, die Shimlas en ook McDonald’s in Qwaqwa en Harrismith, duiksakke, balle en ander toerusting geskenk.
Vir Venter was die Shimlas se kuier “ ’n onwerklike droom” wat verwesenlik is.