Talle vrae nadat seun in munisipale swembad in Bethlehem verdrink

’n Hartseervoorval het hom die naweek afgespeel met die verdrinking van ’n seun in die Bethlehem- Munisipale Swembad.


’n Hartseervoorval het hom die naweek afgespeel met die verdrinking van ’n seun in die Bethlehem- Munisipale Swembad.

Katleho Motloung (15), ’n leerling aan die Hoërskool Ntsu in die dorp, is op Saterdagmiddag 9 Maart dood.

“Die Dihlabeng-munisipaliteit se bestuur is Saterdag omstreeks 15:00 van die voorval verwittig waarin die seun by die munisipale swembad verdrink het,” sê Tsediso Maitse, woordvoerder vir Dihlabeng.

Katleho Motloung (15), ’n leerling aan die Hoërskool Ntsu in Bethlehem, het Saterdag in die munisipale swembad in die dorp verdrink. Foto: Verskaf

Volgens getuies het ongeveer tien leerlinge van die skool, wat seuns en meisies insluit, die veiligheidswag by die swembad genader en gevra of hulle water by die kraan by die swembad kon drink. Die kinders het blykbaar gesê dat hulle dors was weens die bloedige hitte toe hulle vanaf die skool op pad terug huis toe was.

Katleho en nog ’n leerling het egter agtergebly toe die res klaar water gedrink het.

Hy het van sy klere uitgetrek en in die swembad gespring, waarna hy in die moeilikheid beland het. Katleho was nie ’n goeie swemmer nie en sy maat het verbete probeer om hom te red, maar kon hom nie uit die water trek nie.

Die maat het hulp by die veiligheidswag gaan soek, maar Katleho het toe reeds verdrink.

Maitse sê herstelwerk aan die swembad moet gedoen word, en dit is geruime tyd reeds nie in gebruik nie en daarom gesluit.

Daar was dus met die voorval geen menseredder aan diens nie.

Die Dihlabeng-nood­dienste is onmiddellik ná die voorval na die toneel ontbied, waar personeel probeer het om die swembad leeg te pomp om Katleho op te spoor.

Die soektog is bemoeilik weens die troebel water wat so lank reeds in die swembad staan.

’n Professionele duiker het gehulp aangebied en het Katleho se lyk gevind.

Intussen het die munisipaliteit in samewerking met die derpartement van maatskaplike ontwikkeling traumaberading vir die leerlinge gereël.

Jeff Vilakazi, ’n raadslid van die EFF in Dihlabeng meen die voorval het weens die nalatigheid van die munisipaliteit plaasgevind.

“Ons het reeds agt maande gelede gevra dat daar dringend aandag aan die twee munisipale swembaddens in Bethlehem geskenk word. Die swembaddens is in ’n haglike toestand. Ons het vrae en wonder ook hoekom die veiligheidswag nie die kinders vergesel het toe hulle gaan water drink het nie. Die hele sitsuasie is onaanvaarbaar.”

Hilton Maasdorp, DA-koukusleier in Dihlabeng, het in ’n verklaring gesê hulle betreur die afsterwe van die seun en betuig hul innige simpatie aan sy familie en vriende.

Maasdorp sê op die DA se navraag oor hoekom die swembad vol water is wanneer dit nie in gebruik is nie, het die munisi­paliteit geantwoord dat dit só gedoen word om verdere skade aan die veselglasswembadstruktuur te voorkom.

“Die opknapping en beveiling van die swem­baddens is van kardinale belang, en nou meer as vantevore,” sê Maasdorp.

AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê ’n geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Katleho se begrafnis word op Sondag 17 Maart om 09:00 by die Hoërskool Ntsu gehou.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.