Seun hou VS se naam hoog

’n Jong motorfietsryer het stof in sy teenstanders se oë geskop toe hy einde Februarie op die nasionale kortbaan­byeenkoms se eerste skof die algehele eerste plek in sy afdeling behaal.


’n Jong motorfietsryer het stof in sy teenstanders se oë geskop toe hy einde Februarie op die nasionale kortbaan­byeenkoms se eerste skof die algehele eerste plek in sy afdeling behaal.

Boonop is Arno Erasmus (13), ’n gr. 8-leerling aan die Hoërskool Trio in Kroonstad, as die motorfietsryer van die dag in die senior afdeling aangewys.

Hy was die enigste deelnemer om die Vrystaat op die Formule K-baan in Benoni te verteenwoordig.

Saterdag (12/03) het hy ook sy debuut op die Suid-Afrikaanse motorfietsreeks gemaak.

Op dié byeenkoms, wat op die Red Star-renbaan naby Delmas aangebied is, het hy die eerste plek in sy afdeling behaal. Hy het in die sub-500cc-klas, ’n nuwe afdeling vir diegene wat op motorfietse van 500cc en kleiner deelneem, meegeding.

Dié reeks strek oor agt skofte wat in Mpumalanga, Limpopo, die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en die Vrystaat beslis word. Die Vrystaatse skof word op die Phakisa-renbaan buite Welkom aangebied.

Die tweede skof, wat Saterdag (19/03) in Polokwane aangebied word, is volgende aan die beurt.

Drie byeenkomste is vanjaar in Arno se visier: die nasionale kortbaanreeks, die nasionale volbaanreeks en die Vrystaatse veldmotorfiets­byeenkoms.

Volgens sy familie is Arno al van kleins af mal oor enigiets met wiele, en het hy reeds as vierjarige motorfietse aangedurf.

Arno, veral vernuftig as veldmotorfietsryer, volg in die spore van sy pa, oom en oupa – Lourius, Willie, en Louw Erasmus. Al drie is bekend in motorfietskringe.

“In sy heel eerste wedren in Polokwane moes hy nog sy ry-styl tussen veld- en teerbaanrenne aanpas,” sê pa Lourius.

“Ongelukkig het hy laaste geëindig, maar die gogga het hom gebyt.

“Tussendeur veldfietsrenne oefen hy ook soveel moontlik op teerbane.”

Arno neem ook graag aan bergfietswedrenne deel. Op Saterdag 5 Maart het hy as deel van sy skool se bergfietsspan die provinsiale MTB XCO-byeenkoms in Bloemfontein aangepak en die vierde plek behaal.

  • Brad en Darryn Binder, broers wat Suid-Afrika se naam in MotoGP hoog hou, het ook hul loopbaan in nasionale kortbaanwedrenne begin.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.