Seun (7) stel voorbeeld

In Julie het Kroonstad vere reggeskud as Vrystaatse finalis in Kwêla op kykNET se Dorp van die jaar-kompetisie.


In Julie het Kroonstad vere reggeskud as Vrystaatse finalis in Kwêla op kykNET se Dorp van die jaar-kompetisie.

’n Aansteeklike positiwiteit heers in die dorp, en oud en jonk het almal hul moue opgerol om ’n verskil te maak.

Die sewejarige Logan Geldenhuis, ’n gr. 2-leerling aan Trio Primêr in Kroonstad, het beslis nie in die Julie-skoolvakansie stilgesit nie. Hy het ’n verfkwas uitgepluk en sy deel vir Kroonstad gedoen.

Sy pa, Spaski Geldenhuis, wat ’n groot voorstander daarvan is om ’n positiewe bydrae aan sy gemeenskap te maak, het Logan nader getrek om hom te leer hoe om ’n verskil in die samelewing te maak.

Logan het teerpale geverf en onlangs ’n gruwelike vloekwoord wat in Maraisstraat, Kroonheuwel, op die pad geverf was, mooi netjies gaan toeverf.

Ma Chantal sê hulle wil Logan leer as jy iets positiefs doen – al is dit iets kleins, soos om ’n paal te verf – kan jy in jou gemeenskap ’n verskil maak.

“Dit is beter as om niks te doen nie en heeldag te loop en kla,” sê sy.

Hulle leer Logan om trots te wees op die werk wat hy uitgerig het en ook dat dit lekker is om te weet dat jy iets vir jou gemeenskap gedoen het.

Logan stel ’n goeie voorbeeld vir baie, en sy ouers is trots op sy goeie gesindheid.

“Ek wil soos my pappa ander mense help”, sê Logan.

Tydens die skoolvakansie het hy saam met sy pa gery en takies verrig en ook by sy oumas, Annelize Geldenhuis en Marietjie Moore, in Kroonstad gekuier.

Behalwe vir die werk in sy gemeenskap, geniet Logan ook tennis en om lid te wees van Die Voortrekkers by sy skool.

Tuis kan hy homself ure lank met Lego-blokkies besig hou en hy geniet dit ook om speletjies op sy slimfoon te speel.

Logan is ’n groot diereliefhebber en het drie katte – Miaau, Biscuit en Cupcake – vir wie hy baie lief is.

You need to be Logged In to leave a comment.