Op grond van die behoefte wat in die Rosendal-gasvryheidsektor bestaan het, is ’n kortkursus aangaande dienslewering deur die Noordwes-Universiteit (NWU) aan 20 kwekelinge van dié Oos-Vrystaatse dorp gebied.
Hulle het die kursus van 12 modules oor ’n tydperk van drie weke gevolg.
Verskeie aspekte binne die kennisveld van dienslewering was die fokus van die werksessies waardeur die kursus aangebied is. Teorie én praktiese toepassing is aan die kwekelinge uitgewys.
Aspekte soos duidelike en effektiewe kommunikasie, die hantering van moeilike kliënte en kliënte-tevredenheid, asook die motivering van werknemers is van die punte wat aangespreek is.
Prof. Hein Prinsloo, verbonde aan die NWU se bestuurskool, het die kursus gelei.
“Die beplanning is om in 2023 verskeie soortgelyke werksessies in die Oos-Vrystaat se toerismegebiede aan te bied,” het Prinsloo gesê.