Residentia Arboretum, die senior leefstylsentrum in Kroonstad, het die Skema van die jaar-eerbewys op die Residentia-uitnemendheid-toekenningsgeleentheid ontvang.
Die geleentheid is op 7 September in Krugersdorp gehou.
“Kroonstad is in Julie as Kwêla se Dorp van die jaar gekroon en dit is vir ons absoluut ’n voorreg om ook trots ’n bydrae tot die titel te maak met Aboretum wat die Skema van die jaar-titel gewen het,” sê Marina van der Westhuizen, bestuurder van die sentrum.
Die moontlike ontvangers van die eerbewys is volgens streng kriteria beoordeel.
Arboretum was die sentrum wat die meeste vordering gemaak het met die vestiging en toepassing van oorhoofse en plaaslike strategie. Die welstand van inwoners, dankbetuigings vir uitstekende diens, die netto winspresentasie van die skema, asook die algemene voorkoms van die skema, is vereistes wat in ag geneem is
Arboretum het uitsonderlike vordering in die bogenoemde kriteria getoon en het sy doelwitte met ’n klein span behaal. Die sentrum se multidissiplinêre span bestaande uit ’n verskeidenheid kundiges uit die gemeenskap.
By die sentrum word klem gelê op vermaak en ’n groot verskeidenheid aktiwiteite waarmee inwoners bedrywig bly. Elke inwoner se sorgplan word volgens persoonlikheid, agtergrond en belangstellings saamgestel en só bied Arboretum individuele sorg aan elke inwoner.
“Die gerief het in die relatiewe kort tydperk van drie jaar verander in ’n omgewing wat bevorderlik is vir die hoogste ontwikkeling en groei van alle sorgvennote,” sê Joe Duvenage, uitvoerende hoof.
Arboretum koester dankbaarheid teenoor die Kroonstad-gemeenskap en die families van inwoners vir hul onbaatsugtige bydrae om van die sentrum ’n sukses te maak.
Ter viering van die titel wat dié sentrum nou dra, sal Arboretum vir die volgende drie maande ’n spesiale aanbod op verblyf en versorging aanbied.
Vir meer inligting skakel 056-215-1920.