Vier van Sentraal24 se personeellede is benoem in die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste (FCJ) se jaarlikse AVBOB FCJ-uitnemendheids-eerbewyse vir werk wat in 2023 gelewer is.
Helena Barnard, redakteur van die NoordKaapBulletin wat verlede jaar die wenner in die afdeling vir digitale verslaggewing was, is weer vanjaar in dié afdeling benoem. Sy is ook benoem in die afdelings vir algemene fotografie en ook nuusfotografie.
Marti Will, redakteur van Vista in Welkom, is genomineer in die afdeling vir harde nuus.
Twee van die subredakteurs is ook benoem vir die goeie opskrifte wat hulle in Sentraal24 se gemeenskapskoerante skryf.
Inge Strydom is benoem in die afdeling vir hoofopskrifte wat sy in BloemNuus geskryf het. Hoofsubredakteur Madré Marais is benoem in die afdeling vir hoofopskrifte vir BloemNuus en VrystaatKroon.
NoordKaapBulletin is ook genomineer in die afdeling vir Gratis Koerant van die Jaar.
Die gala-geleentheid waarop die wenners van die kompetisie aangekondig gaan word, vind op 2 Augustus in Johannesburg plaas.
Daar is vanjaar 561 inskrywings van joernaliste en redaksielede oor die land heen ontvang.
André Gouws, dosent in joernalistiek by Akademia en sameroeper van die beoordelaars sê hoewel daar effe minder inskrywings was as verlede jaar, was die beoordelaars besonder beïndruk met die gehalte van werk wat ingeskryf is. “Dit wys die diepe toewyding van gemeenskapsjoernaliste oor die land heen.”
“Nie alleen tree gemeenskapsjoernaliste op as die gemeenskap se bewakers nie, hulle help ook die gemeenskap gedy deur te berig oor wat gebeur – van sport tot gesellighede tot ondersteuning van plaaslike ondernemings,” sê Gouws.
“Nuuskantore is klein en gemeenskapsjoernaliste werk baie hard. Ons as die beoordelaars kan dit sien. Ons kan sien dat mense in gemeenskappe waardeer wat gemeenskapsjoernaliste doen.”
Ben Burger, uitvoerende direkteur van die FCJ, het André en die paneel beoordelaars bedank vir die reuse-werk om die inskrywings te beoordeel.