NoordkaapBulletin se redakteur, Helena Barnard, het geseëvier in die afdeling vir digitale media in die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste (FCJ) se jaarlikse AVBOB FCJ Eerbewyse wat Vrydag (04/08) in die Cape Sun in Kaapstad aangebied is.
Die jaarlikse eerbewyse gee erkenning aan gemeenskapsjoernaliste van gemeenskapskoerante oor die land heen.
Marietta Lombard, uitvoerende direkteur van die FCJ sê die hoeveelheid inskrywings vir die kompetisie was vanjaar byna dubbeld soveel as verlede jaar.
Daar was vanjaar 527 inskrywings en redaksielede van Sentraal24, wat bestaan uit die gemeenskapskoerante NoordkaapBulletin, Bloemnuus, Express, Vista en VrystaatKroon, is in talle afdelings as finaliste aangewys.
Barnard sê sy het glad nie verwag om die digitale afdeling te wen nie. “Ek het nog op universiteit joernalistieke eksamens met ’n tikmasjien geskryf en weet hoe tippex en ’n filmkamera werk,” sê sy oor die eerbewys.
“Wat dalk tot die sukses bydra, is dat ek berigte ingeskryf het met temas wat my na aan die hart lê.
“Voldoende redaksionele ruimte in gemeenskapskoerante is ’n voortdurende uitdaging. Hier bied digitale joernalistiek juis daardie ruimte vir die beskrywing van ’n belewenis, aanhalings, ’n bietjie navorsing, wenke vir lesers en heelwat foto’s.”
Wat die kompetisie betref, sê Barnard dit is verblydend dat ’n onderneming soos AVBOB hom so met die geskrewe woord bemoei en die waarde van gemeenskapskoerante besef. “Hulle wakker die leeskultuur aan en bied selfs gedigkompetisies aan.”
Benewens die digitale afdeling, het Barnard ook ’n gesamentlike derde plek gekry in die afdeling van joernalis van die jaar.
Sy is ook aangewys as finalis in die afdelings redaksionele kommentaar, menslikheidstories en nuusfotografie.
Nog ’n skrywer vir NoordkaapBulletin Charné Kemp, is genomineer in die afdelings joernalis van die jaar, menslikheidstories, ondersoekende joernalistiek, nuusfotografie en fotograaf van die jaar.
Teboho Setena, redakteur van Express, is genomineer in die afdelings sportfotografie en nuusfotografie.
Marti Will, redakteur van Vista is genomineer in die sport-afdeling.
Twee van Sentraal24 se subredakteurs Inge Strydom en Shirwan Newton is benoem in die afdeling vir opskrifte.
Verder is nog ’n korrespondent, die rubriekskrywer vir Bloemnnuus Erica Pretorius benoem in die afdeling vir rubrieke.
Karen Herbert, groepredakteur Sentraal24, sê Barnard se eerste plek, derde plek en nominasies in soveel ander afdelings is die vrugte wat sy pluk vir volgehoue harde werk. Sentraal 24 is trots op elke ander benoeming in die ander afdelings en bewys weer die Vrystaat en Noordkaap hoef vir niemand terug te staan nie.