Selfonderhoudende toekoms wag

Terwyl ek warm water in die bad tap, dit nadat ons weer vir dae met water- en krag-uitdagings gesukkel het, besef ek dat die luukse van ’n bad vol warm water ons in die toekoms heel waarskynlik dikwels nie beskore sal wees nie.


Terwyl ek warm water in die bad tap, dit nadat ons weer vir dae met water- en krag-uitdagings gesukkel het, besef ek dat die luukse van ’n bad vol warm water ons in die toekoms heel waarskynlik dikwels nie beskore sal wees nie.

Ons sal ons denkpatrone moet verander en na ’n selfonder­houdende leefstyl moet beweeg.

Die voortslepende water- en riool- en elektrisiteitskrisisse in die Vrystaat noop ons om alternatiewe te ondersoek.

Die meeste mense het reeds in die afgelope jaar of twee in watertenks belê omdat ons krane gereeld droog loop.

Kragopwekkers en sonpanele is ons voorland, behalwe as ’n wonderwerk ons van die huidige kragvoorsiener en die duisternis wat met die stand van sake gepaard gaan, verlos.

Ek sien selfs gaskoeldrank-maatskappye maak nou soos in die ou dae van glasbottels gebruik wat hergebruik kan word. Ek neem aan dit is om die plasiekbesoedeling te verminder, maar dit laat ’n mens besef dat dinge daadwerklik moet verander.

Selfonderhoudend is die wagwoord hier – en ja, ons gaan ongelukkig ons eie krag moet opwek en genoeg water moet berg vir droë tydperke soos dié waarin ons onsself deesdae bevind.

Ons kan selfs groentetuine aanlê, en as deel van ons plig om plaaslike entrepreneurs te ondersteun kan ons meel by die plaaslike meulenaars koop en ons eie brood bak.

Dit is hoe die toekoms vir ons uitgespel is. Sodra ons meer op onsself aangewese is, sal ons minder in die oë van die regering hoef te kyk om in ons behoeftes te voorsien.

Die idee van ’n leefstyl­verandering sal gou by ons moet posvat sodat ons gemakliker kan funksioneer in die disfunksionele provinsie waarin ons is.

You need to be Logged In to leave a comment.