Selfbeheersing stuit dié verslawing

Sonder enige redenasie is dit duidelik dat die meeste van ons op die een of ander manier aan tegnologie verslaaf is.


Sonder enige redenasie is dit duidelik dat die meeste van ons op die een of ander manier aan tegnologie verslaaf is.

Nou praat ek spesifiek van die selfoon in jou hand – en ja, ek sluit myself hierby in.

Dié toestel het verseker ’n enorme invloed op ons elkeen se daaglikse leefwyse.

Gestel jy sit jou foon elders as op die gebruiklike plek, of laat dit per ongeluk iewers lê, kry jy op die plek byna ’n hartstilstand.

Ek is absoluut verlore sonder my selfoon, wat ook my kantoor is omdat 80% van my werk daarop plaasvind. Ek neem foto’s en redigeer dit, skryf dokumente en e-posse, maak oproepe, stuur boodskappe en doen selfs navorsing op dié toestel, dus sal ek in absolute paniek verval, sou my foon verlore raak of iets oorkom.

Ons raak maklik nostalgies en sê dinge was beter in die ou dae, maar ek vind dat tegnologie ons lewe radikaal verander het.

My foon is ’n “tool of the trade,” en tegnologie vergemaklik inderdaad op dié manier my lewe.

Daar is ook ander voordele.

Mense lees die Bybel op digitale platforms en woon eredienste só by wanneer hulle nie kan kerk toe gaan nie.

Sonder tegnologie sou ons nie vinnig met sus in Australië of Londen kon kuier danksy FaceTime nie.

Tog probeer ek elke dag opnuut alle sosialemedia­platforms vir so lank as moontlik vermy.

Ek weet eerlikwaar nie waar mense tyd kry om elke dag op Facebook, Instagram, Snapchat, YouTube, LinkedIn, TikTok en Twitter inskrywings te doen nie. Ek sou reken dat dit beslis ’n volle werksdag in beslag sou neem om op al dié platforms aktief te wees.

Te veel tegnologie is ongesond, en hiermee moet ons soos met die meeste dinge in die lewe selfbeheersing toepas.

Ons kan nie meer net die jonger geslag daarvan beskuldig dat hulle aan tegnologie verslaaf is nie – ek dink ons is almal op die een of ander manier skuldig hieraan.

Hiermee bieg ek dan ook dat my gunsteling-toepassings beslis dié van kettingwinkels is, wat van ten minste een sleurwerkie in die lewe ’n plesier maak.

Onthou, hou net matigheid voor oë.

You need to be Logged In to leave a comment.